Bible Society of South Africa
Carina Francke

Jou 24/7 Metgesel – Dag 20

Jou woonplek is tydelik

Bybelteks(te)

Lewe deur die geloof

16Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.

2 KORINTIËRS 4:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

1Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar 'n tent is, afgebreek word, ons 'n vaste gebou in die hemel het. Dit is 'n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan.

2 KORINTIËRS 5:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

Kamp is lekker, maar dit is nie ideaal om permanent in ʼn tent te woon nie, want verskillende faktore speel nie altyd saam om dit ʼn aangename verblyf te maak nie.

Paulus gebruik hierdie beeld om ons verblyf in ʼn deurmekaar en stukkende wêreld te beskryf wat vol siektes, hartseer, hongersnood, teleurstellings, ouderdom en die dood is. Tog word ʼn hoopvolle verwagting ook by ons opgewek: “Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe” (2 Korintiërs 4:16). In 2 Korintiërs 5:1 staan geskryf: “Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ʼn tent is, afgebreek word, ons ʼn vaste gebou in die hemel het. Dit is ʼn woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan” (2 Korintiërs 5:1).

Ons is daagliks pynlik bewus dat ons tentwoning verweer, maar dit moet juis die verwagting van ʼn ewige huis in ons wakker maak. En daardie huis is een wat nooit kan verweer nie, omdat dit ʼn geestelike en ewige huis in die hemel is. Die daaglikse swaarkry en die aftakeling van ons liggaam moet ons nooit moedeloos maak nie, want ons het die volgende belofte: “Ons weet immers dat God, wat die Here Jesus uit die dood opgewek het, ons ook saam met Jesus sal opwek en ons saam met julle voor sy troon sal stel” (2 Korintiërs 4:14). Begin eerder jou lewe voluit leef en fokus op die eindstreep wat in sig is en die prys van ʼn nuwe huis (heel en gesonde) wat op jou wag. Dit ís moontlik want jou 24/7 Metgesel loop elke tree saam met jou.

In teenstelling met die uiterlike word ons innerlike daagliks vernuwe. Ons hart, gees en menswees het lewend geword toe ons 24/7 Metgesel – die Drie-eenheid – in ons kom woon het. Deur ons verhouding met Hom en sy inspraak in ons lewens wanneer ons die woord lees, bepeins en doen ons wat daarin staan. Ons menswees word op wonderbare en misterieuse wyse verander om nooit te verouder nie. Daarom is Paulus hoopvol wanneer hy sê: “Maar, of ons hier woon of daar woon, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil” (2 Korintiërs 5:9).

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS