Bible Society of South Africa
Carina Francke

Jou 24/7 Metgesel – Dag 19

Losgekoop met die bloed van Christus

Bybelteks(te)

18Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. 19Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.

1 PETRUS 1:18-19AFR83Maak oop in die Bybelleser

26Dan sou Christus immers herhaaldelik moes gely het, reeds van die skepping van die wêreld af. Maar nou het Hy net een keer in die voleinding van die tye verskyn om deur sy offer die sonde weg te neem.

HEBREËRS 9:26AFR83Maak oop in die Bybelleser

12“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.

JOHANNES 14:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Onder die ou verbond was die bloed van diere nodig om die volk Israel se sondes te vergewe. Onder die nuwe verbond het Jesus Self die offer geword wat ons sondes vir altyd sou wegneem om ons sodoende met Hom te versoen – dus ons verhouding met God te herstel (Hebreërs 9:26). Jesus se bloed word daarom die mens se geskenk om vergifnis te ontvang en van die juk van sonde los te kom: “Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is(1 Petrus 1:1819).

Sy bloed bring egter ook genesing vir ons hele menswees: “… deur wonde het daar vir ons genesing gekom (Jesaja 53:5). Ook in 1 Petrus 2:24 staan: “Deur sy wonde is julle genees”. Jesus se bediening op aarde bewys hoe waar hierdie woorde is. Jesus het mense met liggaamlike gebreke genees, emosioneel en geestelik versteurdes gesond gemaak, buitestaanders deel gemaak van ʼn gemeenskap en selfs dooies opgewek.

Dieselfde gesag het Hy aan sy dissipels (wat ons insluit) gegee: “Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan” (Johannes 14:12).

In Openbaring 12:11 lees ons dat gelowiges finale oorwinning oor die duiwel behaal danksy die bloed van die Lam “en die boodskap waarvan hulle getuig het. In ons eie krag en vanuit ons eie “stabiele” karakters en sterk persoonlikhede kan ons eenvoudig nie daarin slaag om al die aanslae van die duiwel die hoof te bied nie. Omdat Jesus se bloed egter ons erfporsie geword het by sondevergifnis, gee dit ons gesag om oor elke aanval van die duiwel oorwinning te behaal. Om hierdie oorwinning te bevestig, word ons getuienis oor die Here se werk in ons lewe ʼn laaste spyker in die doodskis van die duiwel se aanslae op ons.

Miskien moet ons die meeste maak van die krag wat in die bloed van Jesus is en begin leef vanuit die waarheid dat ons sondes vergewe is, dat ons met God versoen is, en dat ons gesond en in oorwinning daardeur kan leef!

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS