Bible Society of South Africa
Carina Francke

Jou 24/7 Metgesel – Dag 21

Verwagting van sy wederkoms

Bybelteks(te)

2In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. 3En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.

JOHANNES 14:2-3AFR83Maak oop in die Bybelleser

18Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader.

19Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God.

EFESIËRS 2:18-19AFR83Maak oop in die Bybelleser

8Julle moet ook geduldig wag en moed hou, want dit is nie meer lank nie, dan kom die Here.

Byna elke oomblik van ons dag draai om beplanning, voorsiening en oorlewing vir die hier en die nou. Dis hoe dit elke dag vir die res van ons lewens gaan wees, maar dit is slegs tydelik.

Daar is egter ook ʼn ander lewe, parallel met die fisiese lewe op aarde, naamlik die lewe in die geestesdimensie. En tog is dit die lewe waaraan ons die minste tyd spandeer (of niks), ten spyte van die feit dat dit dit die lewe is wat ewig duur. Dit is ook die lewe wat ons verblyf op aarde draaglik en vreugdevol kan maak! Waarom? Omdat God vir ons belowe het dat ons in Hom meer as oorwinnaars is en dat ons tot alles in staat is omdat Hy vir ons die krag gee en dat alles ten goede meewerk vir diegene wat Hom liefhet. Ons betrek dus die hemelse by ons aardse bestaan in!

Hierdie ewige lewe is die lewe waarvan Jesus praat as Hy vir sy dissipels sê: “In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is (Johannes 14:23).

Ons aardse woning is dus dié van vreemdelinge en bywoners en nie van medeburgers en permanente inwoners nie. Dit is bewerkstellig deur Christus wat aan ons deur die Gees toegang verleen tot die Vader en dit gee ons die reg tot burgerskap in die hemel: “Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader. Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God” (Efesiërs 2:1819).

Nou wanneer betree ons dan hierdie land waarvan ons burgers geword het? Die dag wanneer Jesus terugkeer aarde toe om ons saam met Hom te neem. Ja, ons wens die tyd om, maar word ook aangemoedig om geduldig te wag en ons harte te versterk, want die wederkoms ís naby. In Jakobus 5:8 staan: “Julle moet ook geduldig wag en moed hou, want dit is nie meer lank nie, dan kom die Here.”

God vertraag nie die belofte van sy wederkoms soos ons soms dink nie, maar Hy is geduldig en wil nie hê sommige mense moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom (2 Petrus 3:9). Intussen kan ek en jy ons lewens leef en met entoesiasme die werk van die Here op aarde doen terwyl ons met opgewondheid wag vir sy wederkoms.

Maak net seker jy is gereed.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS