Bible Society of South Africa
Carina Francke

Jou 24/7 Metgesel – Dag 15

Die krag van goddelike waarheid

Bybelteks(te)

16Wat julle moet doen, is dit: Praat die waarheid met mekaar, laat die waarheid en die reg geld in julle regspraak sodat daar vrede onder julle kan wees.

SAGARIA 8:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

19So sê die Here die Almagtige: Elke vasdag, of dit nou val in die vierde of die vyfde, die sewende of die tiende maand, sal vir Juda 'n dag van vrolikheid word, 'n dag van vreugde. Dié dae sal feestelike byeenkomste word, maar dan moet julle bly by die waarheid en sorg dat daar vrede onder julle is.

SAGARIA 8:19AFR83Maak oop in die Bybelleser

4Die grond was mos joune, en toe dit verkoop is, kon jy met die geld gemaak het wat jy wou. Wat het jou besiel om dit te doen? Jy het nie vir mense gelieg nie maar vir God.”

HANDELINGE 5:4AFR83Maak oop in die Bybelleser

Iewers langs die kus van Kalifornië groei seders van Libanon tussen die rotswande. Op een of ander manier het ʼn saadjie sy weg tot in die rotsskeur gevind en met die krag van die son en lig het dit gegroei en ʼn boom geword. So is die krag van ʼn enkele saadjie van goddelike waarheid.

Iemand wat bely hy is ʼn Christengelowige moet verstaan dat die Gees van waarheid in hom woon en dat daar nie plek vir leuens is nie. Geen wonder dat daar in die Bybel opgeteken staan dat ons waarheid moet praat en leef nie: “Wat julle moet doen, is dit: Praat die waarheid met mekaar, laat die waarheid en die reg geld in julle regspraak sodat daar vrede onder julle kan wees” (Sagaria 8:16). Ook, “julle (moet) bly by die waarheid en sorg dat daar vrede onder julle is” (Sagaria 8:19).

Die waarheid maak ʼn weg vir homself en het nie verdediging nodig nie. Wanneer dit boonop waarheid is wat deur ons 24/7 Metgesel in ons lewens bewerkstellig en bevestig word, breek dit deur rots om by die son en lig uit te kom.

In die Bybel word die praat van waarheid in so ʼn ernstige lig beskou dat dit vir ons as waarskuwing dien. ʼn Egpaar het ʼn blatante leuen aan die apostels vertel oor die bedrag geld wat hulle vir welsyn geskenk het en is as gevolg daarvan albei dood (Handelinge 5). Petrus gee ʼn uitspraak hieroor: “Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God(Handelinge 5:4).

Eerlikheid is die kern van wat jy sê wanneer jy die waarheid praat. Niemand hoef te wonder wat jy nou eintlik bedoel het nie; dit is nie tegelyk “ja” en “nee” nie en die waarheid is nie verdraai nie.

As jy waarheid leef beteken dit jy is eerlik en opreg. Dis soos ʼn anagram: Lees dit van links na regs of van bo na onder – en jy lees dieselfde ding. Dit maak nie saak uit watter hoek, in watter lig of vanuit watter rigting jy na gelowiges kyk nie, jou lewe behoort bo verdenking te wees. En dit kry ons net reg as ons groei vanuit die Waarheid en Lig sodat die pad wat ons loop vir ander die Weg van waarheid kan aanwys.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS