Bible Society of South Africa
Carina Francke

Jou 24/7 Metgesel – Dag 14

Die krag van God bewaar en versterk ons

Bybelteks(te)

4op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. 5En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. 6Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle 'n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings 7sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.

1 PETRUS 1:4-7AFR83Maak oop in die Bybelleser

1 Petrus 1:6-7 handel nie oor swaarkry in die algemeen nie, maar oor beproewings omdat mense die Here liefhet en gevolglik daaroor gespot en vervolg word.

Om vol blydskap tydens beproewings te wees is bykans onmoontlik, veral as dit oor jou geloof gaan, maar ons kan dit regkry as ons fokus op wat belangrik is. Vir Petrus gaan dit in hierdie Skrifgedeelte (1 Petrus 1:6-7) daaroor om te fokus op die beloftes wat God aan ons gemaak het: God het aan ons nuwe lewe geskenk en ons kan sonder twyfel uitsien na “die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel” vir ons bewaar word. Verder is daar ook die belofte dat ons deur die krag van God veilig bewaar (word)” (1 Petrus 1:4-5). Dit is kragtig en ʼn vertroosting! Omdat Hy ons in sy beskerming geneem het, is dit tog moontlik om getrou aan Hom te bly, selfs al kom daar beproewings, ongeregtighede of selfs die dood.

Dis op hierdie waarheid wat die skrywer fokus wanneer hy aan sy lesers skryf: “Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ʼn kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings” (1 Petrus 1:6).

Waarom is dit nodig dat ons geloof getoets word? Ons is kosbaar vir God. Hy het immers sy Seun gegee om dit te bewys. Beproewing en swaarkry is egter nodig – dit vorm deel van ons suiweringsproses, want as ons geloof nie rein is nie, hoe kan ons leefwyse dan rein wees? Dit is dus nodig dat ons geloof getoets word om die reinheid daarvan te bepaal. Soos hitte die onsuiwerhede in goud blootlê en wegbrand, so lê swaarkry jou geloofsmotiewe bloot: Glo jy vanweë die feit dat Hy goeie dinge vir jou gee, omdat jy met voorspoed beleef, omdat jy bang is dat jy die ewige lewe gaan misloop, of omdat Hy God jou Skepper is vir wie jy liefhet met jou hele hart?

En die uitkoms as jou geloof die toets weerstaan? Wanneer Jesus terugkeer aarde toe, sal jou geloof
“lof en heerlikheid en eer waardig (wees)” (1 Petrus 1:7).

Al lyk dit vir jou onmoontlik is dit moontlik om in swaarkry steeds vreugde te ervaar omdat Hy jou bewaar vir die erfporsie van die ewige lewe wat op jou wag. Dis net jou geloof wat in lyn daarmee moet kom.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS