Bible Society of South Africa
Carina Francke

Jou 24/7 Metgesel – Dag 12

Die Heilige Gees se krag is 24/7 beskikbaar

Bybelteks(te)

19As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle. 20Onthou wat Ek vir julle gesê het: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woorde ter harte geneem het, sal hulle julle s'n ook ter harte neem. 21Maar hulle sal dit alles aan julle doen omdat julle my Naam bely en hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.

JOHANNES 15:19-21AFR83Maak oop in die Bybelleser

As gelowiges in ʼn gebroke wêreld beleef ons ook teleurstellings, hartseer en selfs vervolging. Ja, sommige van ons verloor selfs ons werk, ons huise en geliefdes. Dis dan wanneer ons vra, “hoekom?” Ons wonder skielik waar die Heilige Gees is wanneer ʼn mens Hom nodig het.

Beproewinge moet egter nie vir ons vreemd wees nie, want Jesus, ons Leier, het ook krisisse in sy lewe ervaar. Daarom sê Hy: “As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle My woorde ter harte geneem het, sal hulle ook julle sʼn ook ter harte neem (Johannes 15:20).

Jesus gee ʼn paar redes hiervoor: Hy is vervolg en omdat gelowiges aan die Here behoort en sy Naam bely, sal hulle ook vervolg en gehaat word. Waarom? Want die wêreld ken nie vir God of vir Jesus nie (Johannes 15:19,21). Soos hierdie beproewinge gee die lewe ook vir ons groot probleme. Hoe dit ook al sy, beproewinge het onder andere ten doel om die egtheid van ons geloof te toets (1 Petrus 1:7). Hoe gouer ek en jy dus vrede maak met die onvermydelike en begin leer hoe om swaarkry te hanteer, hoe gouer en makliker sal ons – ten spyte van ons stryd – in oorwinning kan leef.

Jy sien, oorwinning oor die dinge wat jou platslaan ís moontlik: “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet (Romeine 8:37). Die Gees in my en jou waarborg dat sy krag 24/7 in alle omstandighede vir ons beskikbaar sal wees. Hy is die Lig in jou wat selfs in die donkerste tye helder skyn, wat reeds vir ons die oorwinning behaal het en wat medelye met ons het. Wat is ons verantwoordelikheid dan? Om in ons geloof in Hom gevestig te bly en die lig van sy woord uit te straal en sodoende elke aanval van die vyand op ons gees en gesonde verstand te weerstaan.

Marcelle Auclair het gesê: “If you have to sit in a dark room you do not blame the darkness of the night. No, you take care to have a lamp available. Light a lamp in every dark corner of your heart.”

Jesus is die Lig wat deur ons skyn om die duisternis te verdryf sodat bekommernis en vrees vir die hede en die toekoms nie ons visie van oorwinning in Hom belemmer nie.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS