Bible Society of South Africa
Carina Francke

Jou 24/7 Metgesel – Dag 11

Die Heilige Gees kweek vrugte in ons

Bybelteks(te)

12Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges 'n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid.

1 TIMOTEUS 4:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

16Let goed op jou lewe en jou leer, volhard daarin, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister.

1 TIMOTEUS 4:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

14Weerhou my van opsetlike sondes,

laat hulle nie oor my heers nie.

Dan sal ek onberispelik wees

en vry van hierdie groot sonde.

PSALMS 19:14AFR83Maak oop in die Bybelleser

29Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.

EFESIËRS 4:29AFR83Maak oop in die Bybelleser

16Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. 17Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie. 18Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.

19Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, 20afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, 21afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.

22Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid,

GALASIËRS 5:16-22AFR83Maak oop in die Bybelleser

Om vrug te dra impliseer dat jy as gelowige vir God – in wie jy glo en wie in jou bly – deur jou leefwyse sal verheerlik. Anders gestel: Sy teenwoordigheid in jou lewe behoort jou dryfveer te wees om ʼn voorbeeld vir ander te wees wanneer hulle na jou leefstyl kyk.

In 1 Timoteus 4:12 word daar enkele dinge genoem wat deur jou lewe weerspieël behoort te word: “ wees jy vir die gelowiges ʼn voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid.

Die gelowige se woorde moet in die eerste plek vir Hom aanneemlik wees (Psalm 19:15) en wanneer ons met mense praat, behoort dit wat uit ons monde kom opbouend te wees “sodat dit julle hoorders ten goede kan kom” (Efesiërs 4:29). Vuil taal behoort dus nie deel van ons woordeskat te wees nie.

Die Heilige Gees wat in ons woon kweek vrugte wat in ons gedrag of in ons leefwyse sigbaar word. Galasiërs 5:16-22 skep ʼn baie duidelike beeld oor watter gedrag nie by ʼn gelowige tuishoort nie, omdat dit nie tot eer van die Een in ons is nie. As ek en jy dus die praktyke van die sondige natuur wat genoem word in ons lewens herken, moet ons verstaan dat ons nie leef vanuit die Gees wat in ons woon nie, maar dat ons gedrag bepaal word deur die begeertes van ons sondige natuur. Slegs wanneer ons leefwyse deur die Heilige Gees bepaal word kan dit lynreg met reinheid staan – daardie kwaliteit wat beskryf word as rein van besoedeling en wat nie besmet is nie.

Die liefde en geloof wat ons as voorbeeld vir mense moet gee kan beskryf word as daardie allesoorheersende liefde vir en geloof in Hom wat in ons lewens en deur ons leefwyse sigbaar word vir die mense rondom ons.

Die skrywer rig ook ʼn waarskuwing aan ons en Timoteus: “Let goed op jou lewe en jou leer, volhard daarin  Ons moet ook onsself, ons lewens en dit wat ons aan ander leer gereeld onder die vergrootglas plaas, “… want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister (1 Timoteus 4:16).

ʼn Leefstyl wat God verheerlik ís moontlik, maar net as ons totaal afhanklik is van die Een wat binne-in ons leef.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS