Bible Society of South Africa
Carina Francke

Jou 24/7 Metgesel – Dag 10

Om vrug te dra is om God te verheerlik

Bybelteks(te)

8Daar was ook 'n deel wat in goeie grond geval het, en dit het opgekom en 'n honderdvoudige oes gelewer.”

Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: “Wie ore het en kan hoor, moet luister!”

12Dié wat op die pad val, dui op mense wat die woord hoor, maar dan kom die duiwel en neem dit uit hulle harte weg sodat hulle nie tot geloof kom en gered word nie.

14Die saad wat tussen die onkruid val, dui op dié wat die woord hoor, maar deur die sorge en die rykdom en die genietinge van die lewe word dit gaandeweg verstik, en dit skiet nie saad nie. 15Die deel wat in goeie grond val, dui op dié wat die woord met 'n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrug dra.”

LUKAS 8:14-15AFR83Maak oop in die Bybelleser

16Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra.

JOHANNES 15:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Om net een keer of elke nou en dan vrug te dra is nie ʼn opsie wanneer ʼn gelowige in Christus en sy woord bly nie. Nee, daar is ʼn verwagtinge: groei en lewer honderdvoudig vrug (Lukas 8:8); “wat in die goeie grond val – dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in ʼn edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra” (Lukas 8:15).

In die gelykenis van die saad wat in die grond val gee Jesus redes waarom gelowiges nie met volharding vrug dra nie. Sommige mense kan nie vrug dra nie, want hulle hoor die woord, “maar dan kom die duiwel en neem dit uit hulle harte weg sodat hulle nie tot geloof kom en gered word nie” (Lukas 8:12). Ander glo wel, maar wanneer hulle geloof op die proef gestel word, swig hulle voor versoekings sonder om wortel te skiet – met die gevolg dat hulle moed opgee. Dan is daar mense by wie die spruite van die vrug sigbaar is, “maar deur die sorge en die rykdom en die genietinge van die lewe word dit gaandeweg verstik” (Lukas 8:14).

Hoe lyk iemand wat met volharding ryp vrugte dra? Dit is iemand “… wat die woord met ʼn goeie en opregte hart hoor en dit bewaar” (Lukas 8:15). Hulle doen dus wat Jesus van gelowiges verwag, naamlik om sy gebooie te bewaar om in sy liefde te bly en sodoende as loot deel van die wynstok te bly. Om vrugte te dra is nie opsioneel nie en Jesus stel dit baie duidelik: “Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou(Johannes 15:16). Maar onthou, om vrug te dra is nie om jou goed te laat lyk nie, maar om vir God te verheerlik.

Die sleutel vir die dra van ryp en volgehoue vrugte is volharding. Wanneer mense of die lewe ons

ʼn vuishou toedien, sukkel ons dikwels om aan die beloftes van die woord vas te hou. Ons bevraagteken God en sy vermoë om te kan help en as Hy ʼn bietjie lank neem, gee ons sommer op. Ook wanneer dit goed gaan moet ons versigtig wees dat ons vrugte nie verlep nie. Ons kan so maklik in sulke tye dink dat dit ons vermoë is wat vir ons sukses bring. Volharding verg geduld en die geloof dat God is en kan ten spyte van ons omstandighede. Volharding sê ook dat ek vrugte sal dra in voorspoedige én moeilike tye.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS