Bible Society of South Africa
Carina Francke

Jou 24/7 Metgesel – Dag 2

Die Heilige Gees bekragtig ons

Bybelteks(te)

49En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is.”

Nadat Jesus uit die dood opgestaan het, verskyn Hy aan sy dissipels vir wie Hy tot op daardie oomblik nog dood was. Toe hulle vir Jesus sien het hulle gedink Hy is ʼn gees. Hy het hulle gegroet en gesê: “Vrede vir julle!” Gʼn wonder hulle het geskrik nie! Hulle het besef dat Jesus weer leef nadat Hy sy hande en voete vir hulle gewys het en gevra het vir iets om te eet.

Met die wete dat Jesus binnekort gaan terugkeer na sy Vader en dat sy dissipels daarna alleen gaan wees, bevestig Hy die belofte wat Hy voor sy dood aan hulle gemaak het, naamlik dat Hy die Heilige Gees na hulle sal stuur: “En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is” (Lukas 24:49).

Wat Jesus hier belowe is dat die Heilige Gees ons 24/7 Metgesel is wat in en by ons bly en ons ook bekragtig.

Maar eers verduidelik Jesus vir hulle die betekenis van sy dood en opstanding. Voordat die dissipels hierdie boodskap aan ander kon oordra moes hulle eers verstaan dat God se doel en plan deur Jesus in werking gestel is en dat Hy hierdie plan deur hulle aan alle mense bekend wil maak. Daarvoor sou hulle bonatuurlik toegerus moet word.

Ek en jy kan nie vir ander die boodskap gee of die vrede beleef waarmee Jesus hulle gegroet het in hierdie stukkende en deurmekaar wêreld as die Heilige Gees ons nie krag gee nie. Net soos die dissipels het ons ook dikwels vrees, twyfel ons aan sy woorde en beloftes, en sukkel ons om in Hom te glo. Ons verstaan en sien nie altyd dit wat voor die hand liggend is nie. Ons het daagliks sy hulp nodig om ons oë oop te maak om te verstaan wie Hy werklik is.

Daarom is die krag wat ons van God ontvang nie ʼn eenmalige gebeurtenis nie. Ons is voortdurend afhanklik van Hom om vir ons in alle omstandighede krag te gee. In ons daaglikse lewe beteken dit dat ons ʼn aktiewe en lewende verhouding met Hom moet hê en nie op ons eie onvolmaakte vermoëns en gebrekkige insigte sal staatmaak nie. Sy krag is immers van bo en het geen perke nie.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS