Bible Society of South Africa
Carina Francke

Jou 24/7 Metgesel – Dag 1

Jou 24/7 Metgesel

Bybelteks(te)

16Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle 'n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

JOHANNES 14:16-17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Alleenheid is vir die meeste van ons ʼn groot uitdaging. Miskien omdat ons dan gekonfronteer word met stilte en op dié manier gedwing word om tyd in ons eie geselskap deur te bring om ons gedagtes agtermekaar te kry.

Tog is alleenheid ʼn persepsie van die afwesigheid van ʼn fisiese en sigbare teenwoordige persoon. In Johannes 14:16-17 belowe Jesus vir sy dissipels dat Hy hulle nie alleen sal los nie: “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ʼn ander Voorspraak (Helper) stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle en in julle sal wees.

Wat ʼnongelooflike gedagte om te weet dat die gelowige wat die Here liefhet ʼn 24/7 Metgesel het! Die derde persoon in die Godheid, die Heilige Gees, is permanent by ons –

weliswaar onsigbaar, maar meer teenwoordig as iemand aan wie jy fisies kan raak.

Wat beteken dit vir jou en my? In die eerste plek, sodat ons nooit enige situasie alleen hoef te hanteer of te voel dat ons van God en mens vervreemd is wanneer dinge skeefloop nie. Die Heilige Gees woon in jou, sal jou ondersteun en weet immers wat jou vermoëns is. Jy moet net leer om te luister!

In die tweede plek impliseer dit ʼn baie intieme band tussen die gelowige en die Heilige Gees. In die antieke samelewing was die skeiding tussen ryk en arm baie groot – die rykes het die politiek en regstelsel beheer en sodoende kon onreg maklik teenoor die armes gepleeg word. As teenvoeter is iemand uit die hoër klas toegewys aan ʼn arme om hom te leer wat van hom verwag word. So iemand is ʼn parakleet (iemand langs jou) genoem. Besef jy dat ons Parakleet die Heilige Gees sélf is? Hy weet wat jy nodig het en wíl jou leer en jou help onderskei tussen reg en verkeerd.

Maar daar is nog iets: Ons kan die Heilige Gees ken. Hy leer ons 24/7 wat waarheid is … as ons Hóm toelaat om ons te leer en aan alles te herinner wat Jesus op aarde kom onderrig het.

Ja, jy gaan nie noodwendig onmiddellik antwoorde en oplossings vir jou probleme en vrae hê nie, maar jy hoef nie alleen daardeur te gaan nie. Die Heilige Gees is by jou en in jou! En dít versterk jou en gee jou hoop vir die toekoms.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS