Bible Society of South Africa
Gerhard Lindeque

Jesus in die Ou Testament - Dag 6

God wat by stopstrate stop

Bybelteks(te)

Reëlings vir 'n ordelike gemeenskap

1“Jy mag jou nie blind hou wanneer jy 'n verdwaalde bees of skaap van jou volksgenoot sien nie. Jy moet dit na hom toe terugvat. 2As hy nie naby jou bly nie of as jy hom nie ken nie, moet jy die dier na jou huis toe vat, en dit moet daar bly tot hy dit kom soek. Dan moet jy dit vir hom teruggee. 3So moet jy ook maak met 'n donkie of 'n kledingstuk van jou volksgenoot of enigiets anders wat wegraak en jy kry dit. Jy mag nie onverskillig staan daarteenoor nie. 4Jy mag nie onverskillig staan teenoor 'n donkie of 'n bees van jou volksgenoot as jy dit sien val nie. Jy moet hom die dier help optel.

5“'n Vrou mag nie mansklere dra nie, en 'n man mag nie vrouensklere aantrek nie. Die Here jou God het 'n afsku van mense wat dit doen.

6“Wanneer jy afkom op 'n voëlnes in 'n boom of op die grond, en daar is kleintjies of eiers in die nes en die wyfie sit daarop, mag jy nie die wyfie saam met die kleintjies vir jou vat nie. 7Jy mag die kleintjies vir jou vat, maar jy moet die wyfie laat wegvlieg. Dan sal dit goed gaan met jou, en sal jy 'n lang lewe hê.

8“Wanneer jy 'n nuwe huis bou, moet jy 'n reling rondom die dak aanbring sodat jy nie met jou huis iemand se dood veroorsaak as hy van die dak af val nie.

DEUTERONOMIUM 22:1-8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Jesus Christus het die wette en bepalings in die Ou Testament goed geken. Dit was vir Hom die Bybel van sy tyd. Tog is Hy daarvan beskuldig dat Hy nie die wet van Moses stiptelik nakom nie. Jesus beklemtoon dit egter dat Hy nie die voorskrifte van die wet ongeldig wil verklaar nie maar dat Hy juis hulle ware betekenis daaraan wil gee.

Op die oog af het sommige van die bepalings in die Ou Testament weinig met ons verhouding met God te doen. Deuteronomium 22 is ʼn goeie voorbeeld hiervan. Dit bevat voorskrifte oor sake soos kleredrag, voëlneste, bouregulasies en wat om met rondloper beeste te maak. ʼn Mens sou hoogstens kon sê dat dit hier gaan oor munisipale wette en reëlings vir ʼn ordelike gemeenskap.

Sommige gedeeltes in die Ou Testament handel oor higiëne en sanitasie wat betrekking het op mense wat hulle in ʼn primitiewe samelewing bevind het. Wat opvallend is, is dat hierdie voorskrifte gewoon naas bepalings oor offers, feesdae en ander godsdienstige wette aan ons voorgehou word. Die samestellers van die Ou Testament het dieselfde gesag daaraan toegeken. Daarby moet ons in gedagte hou dat in die tyd van Israel se ballingskap, toe groot gedeeltes van die Ou Testament saamgestel is, die bedoeling juis was om God so noukeurig as moontlik te dien ten einde ʼn herhaling van die ballingskap te probeer voorkom.

Wanneer óns nou die Bybel by Genesis begin lees en ons kom by boeke soos Levitikus en Deuteronomium, kan dit ons moedeloos maak. Ons word oorweldig deur al die reëls en regulasies. Dit is presies wat met die mense gebeur het in die tyd toe Jesus Christus op aarde was. Dit het vir hulle gevoel asof hulle nooit in staat sou wees om alles na te kom nie. Daarom som Jesus die hele wet op in twee gebooie: liefde vir God en liefde vir jou naaste.

God is deel van ons alledaagse lewe. Ons lewe nie net Sondae by die kerk in God se teenwoordigheid nie. God is elke dag en oral deel van ons lewens. Jesus Christus se interpretasie van die wet bepaal byvoorbeeld ook ons optrede wanneer ons ʼn motor bestuur.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS