Bible Society of South Africa
Gerhard Lindeque

Jesus in die Ou Testament - Dag 7

God is liefde

Bybelteks(te)

22Vir die twee manne wat die land moes verken, het Josua gesê: “Gaan na die huis van die prostituut toe en bring die vrou en al haar mense uit soos julle haar met 'n eed beloof het.”

23Die verkenners het toe gegaan en vir Ragab, haar pa en ma, haar broers en al haar mense, haar hele familie, uitgebring en vir hulle 'n plek buite die kamp van Israel ingerig. 24Die stad met alles daarin is verbrand, net die silwer en goud en die brons- en ystergoed is in die skatkis van die huis van die Here gesit.

25Josua het die prostituut Ragab en haar familie, al haar mense, laat lewe. Sy het tussen die Israeliete gewoon, en haar nageslag woon nou nog hier, omdat sy die manne vir wie Josua gestuur het om Jerigo te verken, weggesteek het.

JOSUA 6:22-25AFR83Maak oop in die Bybelleser

21Die leiers het verder ook nog vir die volk gesê: “Laat hulle lewe, maar dan moet hulle houtkappers en waterdraers van die hele volk word.”

Nadat die leiers met die Israeliete gepraat het, 22het Josua die Gibeoniete geroep en vir hulle gesê: “Hoekom het julle ons bedrieg? Julle het gesê julle woon baie ver van ons af en al die tyd woon julle tussen ons. 23Daar rus nou 'n vloek op julle. Julle sal altyd slawe wees: houtkappers en waterdraers vir die huis van my God.”

24Hulle het Josua geantwoord: “Daar is oor en oor aan ons vertel wat die Here u God vir sy dienaar Moses gesê het, naamlik dat Hy aan u die hele land gee en dat Hy al die inwoners van die land sal uitroei om vir u plek te maak. Ons het vir ons lewens gevrees, en daarom het ons dié ding gedoen. 25Ons is in u hande, doen met ons wat goed en reg is in u oë.”

26Josua het toe só gemaak: hy het hulle beskerm teen die Israeliete dat dié hulle nie doodmaak nie, 27maar hy het hulle van dié dag af houtkappers en waterdraers gemaak vir die volk en vir die altaar van die Here op dié plek wat die Here sou kies. Dit is vandag nog so.

JOSUA 9:21-27AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dit staan op baie kansels in die kerk: God is liefde. Maar hoe lyk liefde? Jesus Christus het liefde prakties demonstreer. Hy veroordeel nie die vrou wat in owerspel betrap is nie. Hy laat toe dat ʼn onrein vrou Hom aanraak. Hy trek kindertjies nader en genees mense sodat hulle weer aan die tempeldiens kan deelneem. Jesus het getoon dat God se liefde dit moontlik maak vir mense, wat deur ʼn rigiede toepassing van die wet uitgesluit was, om weer iets van God se deernis met mense te kan ervaar.

Ons vind ʼn merkwaardige ooreenkoms met Jesus se optrede in die persoon Josua in die Ou Testament. Alhoewel die opdrag was om alle inwoners van die land uit te roei, spaar Josua tog die prostituut Ragab en haar familie se lewens. Dieselfde gebeur ook met die Gibeoniete. Alhoewel hulle oneerlik was, spaar Josua nie net hul lewens nie maar gee hy aan hulle selfs die geleentheid om in die tempel diens te doen. In beide gevalle word Josua se optrede gevolg deur groot oorwinnings. Dit dra duidelik die boodskap oor dat God se seën nie net bedoel is vir hulle wat die voorskrifte van die wet stiptelik kan nakom nie. God se liefde maak ruimte vir ons menslike swakhede en tekortkomings.

Die implikasie is dat die groot gebod van liefde ook ons optrede teenoor ander mense sal bepaal. Dit beteken dat ons deernis sal hê met mense se nood. Liefde is om iets te doen. Dit is om vir mense kos, klere en huisvesting te voorsien en om tyd in te ruim vir mense wat siek, gebroke en eensaam is. Om God te dien is nie net om ʼn klomp voorskrifte na te kom nie. Ons dien God deur om te gee vir ander mense. Die liefde van God wat ons uitleef is vriendelik, geduldig en verdraagsaam.

Jesus het ons kom leer om met ander oë na mense en hulle omstandighede te kyk. Ons kan mense nie benader op ʼn harde manier nie want God is nie so nie. Ons moet besef dat ander mense iets van God in ons raaksien en beleef. Mense se prentjie van God word gevorm deur die beeld wat ek en jy van God uitdra.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS