Bible Society of South Africa
Gerhard Lindeque

Jesus in die Ou Testament - Dag 3

God wat nuwe deure oopmaak

Bybelteks(te)

14Op die sewe en twintigste van die tweede maand was die aarde droog, 15en toe sê God vir Noag: 16“Gaan uit die ark uit, jy en jou vrou en jou seuns en hulle vrouens, 17en al die lewende wesens wat by jou is, van watter soort hulle ook al is: voëls, diere en alles wat kruip. Hulle moet saam met jou uitgaan. Hulle moet wemel op die aarde en vrugbaar wees en baie word op die aarde.”

18Noag en sy seuns en sy vrou en sy skoondogters het uitgegaan,

GENESIS 8:14-18AFR83Maak oop in die Bybelleser

God gee vir ons nuwe geleenthede in die lewe. Ons moet die lewe benut om God te dien en te verheerlik. Maar hierdie lewe is nie al wat ons het nie. God gee ook vir ons die ewige lewe as ʼn genadegawe.

Deur Jesus Christus het God ons lewens nuut gemaak. In 2 Korintiërs 5:17-18a lees ons: “Iemand wat aan Christus behoort is ʼn nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom, dit alles is die werk van God.” Hierdie nuwe verhouding met God word sigbaar in die manier hoe ons lewe. Ons lewe nou soos nuwe mense wat dinge op ʼn nuwe manier doen. Dit beteken dat ons só sal lewe dat ander mense God se liefde en genade in ons kan raaksien en beleef.

Daar is ook die perspektief van Openbaring 21:5-6 dat God alles nuut maak: “Toe sê Hy wat op die troon sit: ‘Kyk, Ek maak alles nuut.’ En daarna sê Hy: ‘Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.’ Verder sê Hy vir my: ‘Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde.’” Hierdie lewe is nie al wat daar is nie. Deur Jesus Christus het ons reeds deel aan ʼn groter en heerliker werklikheid: die ewige lewe.

God sê vir Noag om uit die ark uit te gaan. Uit genade begin God weer voor met die mens. Die verhaal van Noag is ʼn sprekende voorbeeld van God wat elke keer die mens nog ʼn kans gee. God se opdrag aan Noag om uit die ark te gaan is belangrik. Ons kan nie net in ons veilige ruimtes bly nie. Die lewe is ʼn gawe van God en moet geleef word.

Daar kom unieke geleenthede oor elke mens se pad. Wat maak ons daarmee? Ons moet dit na die beste van ons vermoë gebruik om tot God se eer te lewe. Ons kan ook elke dag met hoop lewe. Ons hoef nie paniekerig te raak nie. Alles in die lewe hang nie van jouself af nie. As jy sondig is dit nie die einde nie. Daar is altyd die troos dat God uit genade weer ʼn nuwe begin met jou sal maak.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS