Bible Society of South Africa
Gerhard Lindeque

Jesus in die Ou Testament - Dag 5

God van hemel én aarde

Bybelteks(te)

10Jakob is van Berseba af weg na Haran toe. 11Teen sononder het hy by 'n plek gekom waar hy kon oornag. Hy het daar 'n klip vir 'n kopkussing gebruik en gaan lê en slaap. 12Hy het gedroom: 'n leer staan op die aarde en die punt van die leer raak aan die hemel, en engele van God klim op en af met die leer. 13Toe kom staan die Here by Jakob en sê: “Ek is die Here die God van jou voorvader Abraham, die God van Isak. Ek sal die grond waarop jy lê, vir jou en jou nageslag gee. 14Hulle sal so baie wees soos die stof van die aarde, en jy sal jou gebied na alle kante toe uitbrei, en in jou en jou nageslag sal al die volke van die aarde geseën wees. 15Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou na hierdie land toe terugbring. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Ek sal doen wat Ek jou beloof het.”

16Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.”

17Jakob het bang geword en gesê: “Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel.”

GENESIS 28:10-17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Jesus Christus het ons kom leer om aan God te dink as ons Vader wat in die hemel is. God sorg vir ons soos ʼn vader vir sy kinders. Ons hoef nie vir God bang te wees nie. Ons kan direk met God in gebed praat. Jesus Christus is die enigste manier waardeur ons God só as ons Vader kan leer ken. Hy is die enigste weg tot God as Vader.

Jesus verseker ons ook dat alle mag in die hemel en op die aarde aan Hom behoort. Hy belowe ons dat Hy altyd by ons is tot aan die voleinding van die wêreld. Dit is ʼn ongelooflike troos dat daar nie ʼn tyd of ʼn plek is waar God nie in ons teenwoordigheid is nie. Soms kan hierdie gedagte ʼn mens bang maak – soos vir Jakob.

Jakob die bedrieër het van God en homself probeer wegvlug. Sy gewete het hom egter ingehaal. In sy droom kom hy tot die skokkende ontdekking dat God al die tyd by hom is. Die verrassing is dat God hom nie veroordeel vir al sy skelmstreke nie. In teendeel: God maak ʼn paar beloftes aan Jakob! Wanneer Jakob hierdie onbeskryflike groot genade van God beleef, voel dit vir hom asof hy tuisgekom het in God se huis. Hy sien die plek as ʼn poort na die hemel. Tussen hemel en aarde is daar ʼn verbintenis. Die hemel is oop. God is nie net in die hemel nie, maar ook elke dag by ons op aarde.

Is dit nie wonderlike nuus vir my en jou nie? God se teenwoordigheid is nie iets waarvoor ons hoef bang te wees nie. Daar is niks wat ons kan skei van die liefde van God nie.

Dit is inderdaad soos Psalm 139:7-10 dit stel: “Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die hemel, is U daar … Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas.”

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS