Bible Society of South Africa
Gerhard Lindeque

Jesus in die Ou Testament - Dag 2

God wat soek na mense

Bybelteks(te)

8Hulle het gehoor hoe die Here God in die tuin wandel teen die tyd dat die aandwind opkom, en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin. 9Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?”

10En die mens antwoord: “Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip.”

GENESIS 3:8-10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die feit dat God na die mens kom soek, bly een van die grootste wonders en ʼn teken dat God vol genade en liefde is. God is besorg oor mense. Dit weerspieël die wese van God. Jesus Christus het dit aan ons kom bewys. Hy is God wat mens geword het en onder ons kom woon het. God kom soek na verlore sondaars.

Ons onthou nog die tollenaar Saggeus wat in ʼn wildevyeboom geklim het. Jesus het by hom gestop en hom meegedeel het dat Hy by hom wil tuisgaan. Dit moes vir Saggeus en al die omstanders ʼn groot verrassing gewees het. Tollenaars was op daardie stadium uitgeworpenes en as sondaars geklassifiseer. Hulle was beslis nie welkom in enige godsdienstige kringe van daardie tyd nie. Tog verklaar Jesus dat daar redding is vir Saggeus en sy huis omdat Hy gekom het om te soek en die te red wat verlore is.

So was God nog altyd. Nadat hulle ongehoorsaam was, kom soek God na Adam en Eva waar hulle wegkruip tussen die bome in die tuin van Eden. Dit is sprekend van God se besorgdheid oor die mens. Ons hoor dit in God se vraag: Waar is jy? Dit is nie ʼn bestraffende of verwytende vraag nie, maar eerder ʼn aanduiding van God wat die verhouding met die mens wil herstel.

Hierdie soeke van God na die mens is so anders as die opvatting wat baie mense oor God het. Mense dink oor die algemeen dat jy moet bang wees vir God. Daarom is hierdie gedeelte ook so tipies van die mens. Die mens kruip weg vir God. Ons ongehoorsaamheid aan God maak dat ons ʼn verkeerde opvatting oor God het. Ons voel skuldig en dan probeer ons dit wegsteek. Dit maak dat die verhouding tussen ons en God nie meer spontaan en natuurlik is nie.

Mens, hoor vandag die stem van die Here as Hy saggies na jou roep: Waar is jy? Moenie vir God probeer wegkruip nie. Moenie vir God bang wees nie. God is lief vir jou.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS