Bible Society of South Africa
Gerhard Lindeque

Jesus in die Ou Testament - Dag 4

God wat die wapen neerlê

Bybelteks(te)

12Toe het God gesê: “Dit is die teken van die verbond tussen My en julle en die wilde diere by julle, 'n verbond wat vir alle toekomstige geslagte geld: 13my reënboog het Ek in die wolke geplaas. Dit sal die teken wees van die verbond tussen My en die aarde. 14Wanneer Ek wolke oor die aarde laat saampak, en die reënboog verskyn in hulle, 15sal Ek dink aan my verbond met julle en al die wilde diere volgens hulle soorte. Daar sal nooit weer vloedwaters kom wat alle lewende wesens uitroei nie. 16Die reënboog sal in die wolke wees, en wanneer Ek dit sien, sal Ek dink aan die ewige verbond tussen My en al die lewende wesens op die aarde.”

GENESIS 9:12-16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wanneer Jesus gevange geneem word, trek een van sy dissipels ʼn swaard uit en probeer om Hom met geweld te verdedig. In die proses kap hy iemand se oor met die swaard af. Jesus beveel sy dissipel egter om sy swaard terug te sit. Daarna het Jesus sy oor aangeraak en hom genees. Jesus leer sy volgelinge om vredemakers te wees. Hulle moet die minste wees en die ander wang draai. Die goue reël is om aan ander te doen wat jy aan jouself gedoen wil hê en om die kwaad met die goeie te oorwin.

In Genesis 9:13 kry ons ʼn prentjie van God as Vredemaker: “… my reënboog het Ek in die wolke geplaas.” Die woord vir reënboog hier is dieselfde woord wat gebruik word vir ʼn pyl en boog, met ander woorde die wapen waarmee daar oorlog gemaak is. Letterlik vertaal staan daar geskryf: Ek sit my boog (wapen) neer. God verklaar vrede. Hy wil nie met die mens op aarde baklei nie. God is nie kwaad vir ons nie. Daar is vrede tussen ons en God. God het deur Jesus Christus die wêreld met Homself versoen. Natuurrampe en ander vorms van lyding is nie ʼn teken van een of ander straf van God nie.

Geweld en aggressie is gewoonlik nie ʼn goeie oplossing vir probleme nie. Tog lees ons dikwels in die Ou Testament van oorloë wat in die naam van die Here gevoer is, God se straf oor ander volkere en selfs van die banvloek. Hoe moet ons dit dan verstaan? Baie van die gedeeltes in die Ou Testament was bedoel om gesag te verleen aan Israel se aanspraak op sekere grondgebied. Dit het ʼn politieke bedoeling gehad.

Die inname van die land kan ook verstaan word as ʼn proses waardeur die volk van God hulle gebiede uitgebrei het om Hom te aanbid. Dit het weer ʼn godsdienstige motief gehad. In die lig van wat Jesus Christus ons oor die koninkryk van God geleer het, kan ons nie een van hierdie redes uit die Ou Testament gebruik as ʼn verskoning om gewelddadig op te tree nie. Aan ons is die bediening van God se versoening gegee.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS