Bible Society of South Africa
Gerhard Lindeque

Jesus in die Ou Testament - Dag 1

God se prenteboek

Bybelteks(te)

Die Here is my herder

1'n Psalm van Dawid.

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.

2Hy laat my rus in groen weivelde.

Hy bring my by waters waar daar vrede is.

3Hy gee my nuwe krag.

Hy lei my op die regte paaie

tot die eer van sy Naam.

4Selfs al gaan ek deur donker dieptes,

sal ek nie bang wees nie,

want U is by my.

In u hande is ek veilig.

5U laat my by 'n feesmaal aansit,

terwyl my teëstanders moet toekyk.

U ontvang my soos 'n eregas,

ek word oorlaai met hartlikheid.

6U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly

en ek sal tuis wees in die huis van die Here

tot in lengte van dae.

Mense dink in prentjies. Die Bybel help ons om ʼn prentjie van God te vorm. Nie in die sin van hoe God lyk nie, maar wel hoe God is. Dit beeld God se verhouding met ons as mense uit. Die probleem is dat daar soms inligting in die Bybel voorkom wat kan maak dat ons ʼn verkeerde beeld van God vorm.

Die beeld van God as herder in die bekende Psalm 23, is baie vertroostend. Dit sê vir ons iets van God se versorging en beskerming. Dit bring vir ons rustigheid. Dit beteken dat ons met vertroue op God kan staatmaak en ons nie siek hoef te maak van bekommernis oor die toekoms nie. In dieselfde psalm word God uitgebeeld as ʼn genadige, dienende en selfopofferende gasheer.

Dinge het egter skeef geloop in die tyd van Israel se ballingskap en veral gedurende die driehonderd jaar wat verloop het tussen die Ou en Nuwe Testament. Mense het al hoe meer ʼn prentjie gevorm van God as ʼn bestraffende en veroordelende regter. Hierdie opvatting oor God het ook neerslag gevind in sommige Bybelgedeeltes. Tydens die opkoms van Judaïsme het hierdie wanvoorstelling van God ʼn hoogtepunt bereik met die Joodse leiers se klem op die nakoming van die wet.

Jesus het egter gekom om ons prentjie van God te verander en reg te stel. Jesus Christus is God in ʼn menslike gestalte. Hy het vir ons kom wys hoe God werklik is. Nou kan ons nie anders as om die Bybel van agter na voor te lees nie. Ons moet begin by die Nuwe Testament en dit wat Jesus Christus ons oor God kom leer het. Dit is eers wanneer ons vir God leer ken, soos wat Jesus Christus ons kom wys het, wat ons kan teruggaan en na God gaan soek in dit wat ons in die Ou Testament lees.

Oor die volgende paar dae gaan ons probeer om ʼn paar van die prente van God, wat Jesus Christus ons kom wys het, in die Ou Testament te vind en te vra na die betekenis daarvan vir ons lewe.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS