Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Is jy dankbaar? – Dag 14

Dankbaar vir gebed

Bybelteks(te)

PSALMS 139

4Daar is nog nie 'n woord op my tong nie

of U, Here, weet wat dit gaan wees.

PSALMS 139:4AFR83Maak oop in die Bybelleser

JAKOBUS 4

2Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op 'n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie.

MATTEUS 7

Gebedsverhoring

7“Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word,

1 TESSALONISENSE 5

17Bid gedurig.

1 TESSALONISENSE 5:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

MARKUS 11

24Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.

MARKUS 11:24AFR83Maak oop in die Bybelleser

Iemand vra op ʼn dag vir my: “Hoekom moet ons bid oor ʼn saak as God klaar weet wat ons benodig?” My vraag aan jou vandag is: “Wanneer laas het jy met God oor jou uitdagings gesels en Hom spesifiek vir deurbrake gevra?”

Ons het ʼn elektroniese klavier by die huis. My dogtertjie, Joalé, hou baie van musiek en sodra ek aankondig dat ons klavier gaan speel, hardloop sy gewoonlik vooruit na die klavier. Daar staan sy op die punte van haar tone in die hoop dat sy van die klawers sal raakdruk. Die probleem is egter dat as die klavier nie by die kragpunt ingeprop is nie, daar geen klank is nie. Dít veroorsaak dat sy dan met vraende oë na my kyk asof om te vra: “Nou waar is die klank dan, Mamma?”

God is ons Kragbron en wanneer ons bid demonstreer Hy sy krag aan ons. Hoewel ons in Psalm 139:4 lees: “Daar is nog nie ʼn woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees,” lees ons ook in Jakobus 4:2b: “… julle het nie, omdat julle nie bid nie.” Al weet God dus van ons uitdagings in die huwelik, finansiële verknorsing, stryd teen ons gewig, ʼn verslawing of van ons slegte verhouding met familielede, wil Hy graag hê dat ons dit met Hom moet bespreek.

Gebed verander ons perspektief op ʼn saak. Nie net help dit ons om nederig en afhanklik van God te bly nie, dit help ons ook om weg te kyk van die uitdaging, die klavier aan te skakel en God te nooi om ons lewens met wêreldklas-simfonieë te kom vul wanneer ons droë, stil tye ervaar.

Hoe weet ons dat gebed werk? In Matteus 7:7 sê Jesus: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word …” In 1 Tessalonisense 5:17 lees ons: “Bid gedurig.” En in Markus 11:24 sê Jesus: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.”

Wanneer laas het jy met God gesels – nie net die vyf minute in die oggend of aand nie, maar regdeur die dag? Maak jy ook tyd om te luister as Hy jou deur sy Heilige Gees antwoord? En raadpleeg jy Hom voordat jy besluite neem of lig jy Hom bloot daaroor in? Onthou, God sluimer en slaap nooit nie. Hy het wêreldklas-simfonieë gereed. Prop in by ons Kragbron en jy mag dalk verstom staan oor wat Hy in jou lewe kan en wil doen. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS