Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Is jy dankbaar? – Dag 15

Dankbaar vir vandag

Bybelteks(te)

PSALMS 118

24Dit is die dag wat die Here gemaak het;

laat ons daaroor juig en bly wees.

PSALMS 118:24AFR83Maak oop in die Bybelleser

Het jy al in die strik getrap om so besig te raak met die kortstondighede van die lewe dat jy nie uitkom by wat eintlik belangrik is nie?

“Pappa, kan ek jou ʼn vraag vra?” het die sesjarige seuntjie vir sy pa gevra toe hy weereens een aand laat en geïrriteerd na werk by die huis opdaag. “Ja, wat wil jy weet?” het die pa geantwoord. “Pappa, ek wil weet hoeveel geld jy per uur by die werk kry?” Dit was ʼn vreemde vraag. “Hoekom wil jy weet?” het die pa kortaf gevra, sy gedagtes steeds by die werk. “Dit is grootmensgoed. Jy hoef dit nie te weet nie. Spog julle by die skool oor wie se pa die meeste geld verdien?”

Die seuntjie het sy kop geskud en gesoebat: “Nee, Pappa. Asseblief, ek moet weet hoeveel geld jy kry?” Om die gesprek te beëindig het die pa geantwoord: “As jy moet weet, ek verdien omtrent R600 per uur.” Die seuntjie was vir ʼn rukkie stil voordat hy vra: “Pappa, kan ek asseblief R300 by jou leen?” Die pa het dadelik vies geantwoord: “As jy wou weet hoeveel geld ek verdien sodat jy weer die een of ander simpel speelding kan koop, kan jy sommer kamer toe gaan. Gaan dink sommer na oor hoekom jy net wil hê, hê, hê. Ek werk heeldag hard en het nie tyd vir kinderspeletjies nie.” Die seuntjie het dadelik opgestaan, na sy kamer gegaan en die deur agter hom toegemaak terwyl die pa op die rusbank neersak.

Nadat hy ʼn rukkie ontspan het, het die pa begin sleg voel omdat hy so kwaai met sy seun was. Dalk het sy seun die R300 vir iets belangriks nodig. Hy is buitendien nie ʼn kind wat dikwels geld vra nie. Die pa het dadelik na sy seun se kamer gestap en die deur oopgestoot. “Slaap jy, my seun?” het hy gevra. “Nee, Pappa, ek is wakker,” het die seuntjie geantwoord. Die pa het op die bed gaan sit en gesê: “Pappa het ʼn lang dag gehad en was dalk vroeër onnodig kwaai met jou. Hier is die R300 wat jy wou gehad het.” Die seuntjie se gesig het dadelik opgehelder terwyl hy uitroep: “Baie dankie, Pappa!” Toe het hy van die bed afgespring, ʼn laai oopgetrek en ʼn paar verfrommelde note uitgehaal wat hy begin tel het.

Die pa wou hom skielik weer vervies toe hy sien dat sy seun wel ʼn klomp geld het. Die keer het hy egter op sy lippe gebyt totdat sy seun die geld klaar getel het. Toe vra hy: “Nou hoekom het jy vir my geld gevra as jy reeds geld het?” Die seuntjie het sy pa reguit in die oë gekyk met die woorde: “Ek het nog nie genoeg geld gehad nie, Pappa. Maar nou het ek! Hier is R600, Pappa. Kan ek asseblief ʼn uur van jou tyd koop?”

Hoe lyk die prioriteite in jou lewe? Is jy ook so besig dat jou geliefdes dalk mettertyd gaan begin voel dat hulle van jou tyd wil “koop”? In Psalm 118:24 skryf die psalmdigter: “Dit is die dag wat die HERE gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.”

Vandag is ʼn geskenk. Jy gaan dit nooit weer terugkry nie. Onthou, jou kinders gaan grootword en jou huweliksmaat ouer. Leef jy vandag so dat jou kinders as volwassenes ʼn behoefte sal hê om steeds te kom kuier? Of sal jy en jou huweliksmaat op julle oudag steeds iets hê om oor te gesels? Kom ons word opnuut dankbaar vir vandag en ook vir ons geliefdes terwyl ons ons lewens só inrig dat hulle weet dat ons hulle liefhet. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS