Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Is jy dankbaar? – Dag 13

Dankbaar vir God se getrouheid

Bybelteks(te)

NUMERI 23

19God is nie 'n mens dat Hy sou lieg nie,

'n mens dat Hy van gedagte sou verander nie.

Sou Hy iets sê en dit nie doen nie,

iets belowe en dit nie uitvoer nie?

NUMERI 23:19AFR83Maak oop in die Bybelleser

DEUTERONOMIUM 7

9“Weet dan nou: die Here jou God, Hy is God. Hy is die betroubare God wat sy verbond in stand hou en sy troue liefde betoon tot aan die duisendste geslag van hulle wat Hom liefhet en sy gebooie gehoorsaam,

DEUTERONOMIUM 7:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

JESAJA 43

19Kyk, Ek gaan iets nuuts doen,

dit staan op die punt om te gebeur,

julle kan dit al sien kom;

Ek maak in die woestyn 'n pad,

Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.

JESAJA 43:19AFR83Maak oop in die Bybelleser

God se Woord en beloftes staan vas. Hier is hoe Evert Potgieter, ʼn leser uit Mosselbaai, God se getrouheid jare gelede beleef het:

Evert: “Ek is reeds vir langer as 20 jaar ʼn finansiële adviseur. Ek werk op kommissiebasis en kry dus nie ʼn vaste salaris aan die einde van die maand nie, wat soms veroorsaak dat my geloof getoets word. Al is ek ʼn kind van God wat weet dat ek niks sonder Hom kan doen nie, is dit soms in die woestyntye moeilik om my oë op Hom gerig te hou. Tog het Hy my nog nooit teleurgestel nie.

In 2014 het ek ʼn ongekende droogtetyd in my praktyk beleef wat veroorsaak het dat ek soms gewonder het of my gebede ooit by God uitkom. Moedeloos het ek die oggend van 8 Mei my e-posse begin oopmaak. April 2014 was die swakste maand in my jare lange beroep en die maand wat voorgelê het, het nie juis belowend gelyk nie.

Dié oggend tydens my stiltetyd lees ek ʼn dagstukkie getiteld: ‘Byvoorbaat dank.’ Die stukkie het daaroor gegaan dat ons God moet dank nog voordat ons ʼn deurbraak in ons lewens beleef. Dit was baie toepaslik op my gemoedstoestand. Ek het die Skrifgedeelte in 2 Kronieke 20 gaan lees en beleef dat God daardie oggend ook vir my gesê het om soos Josafat en die volk op te hou veg en Hom toe te laat om namens my te veg. Ek het alles opnuut aan Hom oorgegee.

Teen die einde van daardie dag het ek my besigheid afgesluit gelykstaande aan twee maande se inkomste! Dit was ʼn wonderwerk en ek kan net getuig van God se getrouheid! Alle eer aan Hom.”

Evert is reg. God is getrou en wanneer ons in afhanklikheid voor Hom gaan staan, stel Hy ons nie teleur nie. Ons lees immers in Numeri 23:19: “God is nie ʼn mens dat Hy sou lieg nie …” En ook in Deuteronomium 7:9 staan geskryf: “Weet dan nou: die Here jou God, Hy is God. Hy is die betroubare God …”

Benodig jy vandag ʼn deurbraak in jou werkplek, finansies, huwelik of gesondheid? Luister dan weer na die belofte in Jesaja 43:19: “Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ʼn pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.”

God kan vir ons in ons woestyntye, net soos vir Evert, riviere laat ontspring terwyl ons met nuwe hoop die toekoms tegemoet stap. Kom ons dank Hom vir sy getrouheid en hou op om in ons eie mag en krag te veg sodat Hy namens ons die oorwinning kan bewerkstellig. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS