Is jy dankbaar? – Dag 10
Dankbaar vir Jesus
Bybelteks(te)
JOHANNES 3
ROMEINE 8
John se sig het vinnig agteruitgegaan. Sy huisdokter het hom na die enigste oogspesialis verwys wat hom dalk deur middel van ʼn peperduur operasie sou kon help. Dit was John se enigste hoop.
Nadat John al sy spaargeld getrek het, het hy die spesialis gaan spreek. Hy was bereid om al sy besittings prys te gee om sy sig te kon behou. Die spesialis het John deeglik ondersoek en tot die gevolgtrekking gekom dat die duur operasie dringend uitgevoer sou moes word om te red wat te redde is. Die dokter se normale fooi vir die operasie was egter ses keer meer as al John se spaargeld.
“Nou ja,” het John teleurgesteld gesug, “ek sal dan maar vrede moet maak dat ek my sig gaan verloor. Ek sal nooit hierdie bedrag kan bymekaarmaak nie.” Die spesialis het na hom gekyk en geantwoord: “Daar is net een manier om hierdie probleem te oorkom. Jy kan nie die volle rekening betaal nie en ek kan nie werk vir die skamele fooi wat jy my kan betaal nie. Ek sal die operasie dus vir jou gratis doen.”
Kom vir ʼn oomblik saam met my terug in tyd. Kan jy die geritsel van die blare hoor waar Adam en Eva in die tuin van Eden vir God wegkruip? Hulle ongehoorsaamheid aan Hom het die intieme verhouding met Hom verbreek en nou kruip hulle weg. Bang vir wat sou volg. Bang om in God se teenwoordigheid te verskyn. Sonde het meteens deel van ʼn sondevrye wêreld geword. Die opoffering om hierdie misdaad te herstel was duur. So duur dat Adam en Eva dit nie sou oorleef nie. Bloed moes vloei. ʼn Lewe moes opgeoffer word.
Flits vorentoe saam met my na die heuwel op Golgota. Sien jy die Man wat aan die middelste kruis hang? Sien jy die bloeddruppel wat oor sy wang vloei voordat Hy hard uitroep: “Eli, Eli, lemá sabagtáni?” Hiermee blaas Hy die laaste asem uit. ʼn Man sonder sonde wat die wêreld se sonde op Hom geneem het.
God het, soos die dokter, geweet dat die herstelprys vir die mensdom te hoog was. Net soos John sou ons nie die prys kon bekostig nie. Hy het daarom die grootste opoffering denkbaar vir ons elkeen gemaak. In Johannes 3:16 lees ons daarvan: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” Ook in Romeine 8:32 staan geskryf: “Hy [God] het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?”
God het sy enigste Seun vir ons opgeoffer met die hoop dat ons die kans sal aangryp om ʼn verhouding met Hom te bou. Wanneer laas het jy vir God dankie gesê vir Jesus?