Is jy dankbaar? – Dag 9
Dankbaar vir die oomblikke van ongemak
Bybelteks(te)
PSALMS 30
Een somersdag was dit bloedig warm in die Kaap. Toe ek om ongeveer 16:00 sien dat dit steeds diep in die 30 grade Celsius is, het ek besluit om my klein dogtertjie, Joalé, na ʼn nabygeleë swembad te neem omdat sy baie lief was vir swem.
Alles het volgens plan verloop – tot ons sowat twee kilometer van die swembad af was. Meteens was die ongemak van die karstoeltjie en hitte een te veel vir Joalé. Sy het hartverskeurend begin huil en geen trooswoorde of beloftes dat iets wonderliks op pad is wou die trane keer nie. In ʼn stadium het ek tussendeur die trane gewonder of ek nie liewer moes terugdraai huis toe nie.
Toe Joalé die swembad sien het ʼn breë glimlag die plek van die trane ingeneem. Meteens het alles sin gemaak en was die tydelike ongemak in die motor selfs die moeite werd aangesien sy baie bly was oor die eindbestemming.
Dáár, langs die swembad, het ek besef dat ons baie keer presies dieselfde in ons geloofslewe doen. Ons beleef ʼn tydelike seisoen van ongemak en in plaas daarvan om te vertrou dat God steeds in beheer is en dat Hy agter die skerms besig is om alles in plek te stel vir ons deurbraak, begin ons kerm en kla.
Die Israeliete het dit in die woestyn ook gedoen. God was op pad om hulle na die beloofde land te lei, maar hulle was ontevrede oor die tydelike ongerief. Hulle het gekla en gemurmureer. Dít, en ʼn gebrek aan geloof in God, het hulle perspektief só versteur dat een hele generasie nooit die beloofde land binnegegaan het nie.
In Psalm 30:12-13 skryf die psalmdigter: “Ek was in die rou, maar U het my van vreugde laat dans. U het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek. Daarom sal ek sing tot u eer; ek sal nie stilbly nie. Here my God, vir altyd sal ek U loof!”
Die grootste versoeking in die ongemaklike seisoene in ons lewens is om God te begin bevraagteken. Só word dit makliker om te kerm en te kla. Die waarheid is egter dat Hy vir ons elkeen planne van voorspoed het, en nie teëspoed nie. Hy ken die eindbestemming en daarom het Hy reeds vir ons feesklere reggesit om die rouklere te vervang. Kom ons sing tot sy eer terwyl ons Hom dank vir die ongemaklike seisoene in ons lewens. Die swembad en die beloofde land is dalk net om die draai. Sterkte.