Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Is jy dankbaar? – Dag 11

Dankbaar vir die stil tye

Bybelteks(te)

PSALMS 46

11Bedaar en erken dat Ek God is,

hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.

PSALMS 46:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Heelwat lesers het die afgelope tyd e-posse gestuur waarin hulle vertel dat hulle deur moeilike tye gaan. Een leser het sommer prontuit gesê: “Ek kan nie verstaan hoekom God nie my gebede beantwoord nie!” Beleef jy ook tans ʼn “stil tyd” in jou verhouding met Hom?

In een van die kelders waarin Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog vir die Duitsers weggekruip het, is hierdie woorde later teen ʼn muur ontdek:

“Ek glo in die son al skyn dit nie.

Ek glo in liefde al ervaar ek dit nie.

Ek glo in God al bly Hy stil.”

Vandag nog ervaar ons soms “stil tye” in ons lewens. Ons bid vir rigting en leiding – stilte. Ons bid vir ʼn huweliksmaat – stilte. Ons bid vir ʼn werksbevordering – stilte. Ons bid vir genesing van ʼn siekte – stilte. Of ons bid vir finansiële herstel – en ervaar stilte. Wat is jou reaksie in hierdie “stil tye”?

Moses het ʼn stil tyd beleef in die woestyn waarheen hy gevlug het nadat hy ʼn Egiptenaar vermoor het. Ook Josef het ʼn stil tyd beleef in die Egiptiese tronk waarin hy gegooi is weens die vals aantygings deur Potifar se vrou. En die hele mensdom het vir 400 jaar, vanaf die laaste openbaring van God in die Ou Testament tot met die koms van Jesus, ʼn stil tyd beleef.

Is God in stil tye afwesig? Natuurlik nie. As jy ʼn stil tyd ervaar is Hy heel moontlik besig om agter die skerms te werk. Net soos ʼn plant se wortels eers afwaarts moet groei om te verseker dat die plant staande bly as dit in die lug opskiet, moet God ook seker maak dat ons karakter en geloof sterk genoeg is om staande te bly wanneer Hy ʼn groot deurbraak en nuwe geleenthede bewerkstellig.

In Psalm 46:11 lees ons: “Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.” In ʼn ander vertaling staan geskryf: “Laat staan en weet dat Ek God is.”

Moses het getrou gebly. Oor ʼn tydperk van 40 jaar het hy die woestyn waarheen hy gevlug het soos die palm van sy hand leer ken, min wetende dat God hom op 80-jarige ouderdom sou roep vir die belangrikste taak van sy lewe: om die Israeliete na die beloofde land te lei – juis deur dié woestyn. Josef het die karaktertoets in die tronk deurstaan en na 12 jaar het God hom in een dag van ʼn gevangene tot onderkoning van Egipte bevorder. Ook die mensdom het 400 jaar nodig gehad om die profesieë van die koms van ʼn Verlosser in ons harte te laat insink, sodat ons gereed kon wees vir die klimaks van die skepping, naamlik die koms van Jesus Christus.

Kom ons begin om vir God dankie te sê vir die “stil tye” in ons lewens. Hy is heel moontlik besig om ons karakter te vorm, ons geloof te toets en alles agter die skerms gereed te kry vir die deurbraak wat op ons wag. Onthou, Hy maak nooit foute nie en sy tydsberekening is altyd perfek. Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS