Bible Society of South Africa
Xanthe Galanis

Hy is altyd by jou – Dag 8

Die gebed van Hiskia

Bybelteks(te)

JESAJA 37

15Toe het hy tot die Here gebid:

16“Here, Almagtige, God van Israel,

U wat oor die gerubs troon,

U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde,

U het die hemel en die aarde gemaak.

17Hoor tog, Here, luister,

kyk tog, Here, let tog op!

“Hoor tog wat Sanherib gesê het; hy het U, die lewende God, in sy boodskap gesmaad! 18Dit is waar, Here, die konings van Assirië het nasies met lande en al verwoes 19en hulle gode verbrand, maar dit was nie gode nie, dit was die werk van mensehande, hout en klip; daarom is hulle vernietig. 20Here ons God, red ons tog uit die mag van die Assiriese koning. Dan sal al die koninkryke van die aarde besef dat net U, Here, God is.”

JESAJA 37:15-20AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 KONINGS 19

14Hiskia het die briewe wat die gesante gebring het, gevat en gelees. Daarna het hy na die huis van die Here toe gegaan en die briewe voor die Here oopgesprei.

2 KONINGS 19:14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons het reeds van koning Hiskia en sy toenemende probleme gelees. Hy kry ʼn boodskap van die hoofadjudant van die Assiriese leër, wat Jerusalem reeds omsingel het, dat die stad moet oorgee. Hoe reageer Hiskia? “

Hiskia het die briewe wat die gesante gebring het, gevat en gelees. Daarna het hy na die huis van die Here toe gegaan en die briewe voor die Here oopgesprei” (2 Konings 19:14).

Sou my eerste reaksie gewees het om dadelik in die Here se teenwoordigheid te gaan en te bid? Sou ek ontsteld gewees het oor wat daar van God gesê word? Sou ek die Here vir beskerming gevra het?

Hiskia weet op wie hy moet vertrou. In Jesaja 37:16-20 sal jy opmerk dat hy tot die “Here, Almagtige, God van Israel (bid)”. In die gebed spreek hy God verskeie kere aan as “Here” en ook as die “lewende God”. Hiskia vertrou op die gesag en karakter van die Almagtige God, ʼn God wat oor die gerubs troon en oor almal heers. ʼn God wat die hemel en die aarde gemaak het. Hiskia kom ook dadelik tot die punt. Hy vra die Here om te “hoor”, te “kyk”, te “luister” en ook om hom en sy mense te “red” uit die mag van die Assiriese koning.

In Hiskia se gebed is daar vrymoedigheid, afhanklikheid, vertroue, en begrip vir die karakter van God. Hiskia verstaan sy eie tekortkominge, dat hy swak is en dat daar net een plek is waarheen hy kan gaan vir beskerming.

Let ook daarop dat Hiskia nie net vir sy eie veligheid bid nie. Hy bid ook tot eer van die Naam van die Here en dat al die onbereikte mense rondom hom sal besef wie God is en Hom sal eer. Is daar iets van die sendinghart van God in jou gebede?

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS