Bible Society of South Africa
Xanthe Galanis

Hy is altyd by jou – Dag 6

Jesaja se profesie

Bybelteks(te)

JESAJA 13

19Babel, die sieraad onder die koninkryke,

die pronkstuk en trots van die Galdeërs,

sal deur God verwoes word soos Sodom en Gomorra.

20Die stad sal nooit meer bewoon word nie,

niemand sal ooit weer daarin bly nie.

Geen Arabier sal sy tent daar opslaan nie,

geen wagter sal sy kudde daar laat rus nie.

JESAJA 13:19-20AFR83Maak oop in die Bybelleser

DANIËL 5

Die skrif aan die muur by die ete van koning Belsasar

1Koning Belsasar het 'n groot ete gegee vir sy duisend hoofamptenare en saam met hulle wyn gedrink. 2Toe hy onder die invloed van die wyn was, het hy die goue en die silwerbekers wat deur sy voorganger Nebukadnesar uit die tempel van Jerusalem weggevoer is, laat haal sodat hy en sy hoofamptenare, sy vrouens en sy byvrouens daaruit kon drink. 3Toe is die goue en die silwerbekers gebring wat weggevoer is uit die tempel van God in Jerusalem, en die koning en sy hoofamptenare, sy vrouens en sy byvrouens het daaruit gedrink. 4Hulle het wyn gedrink en die gode van goud, silwer, brons, yster, hout en klip geprys. 5Meteens verskyn daar toe 'n mensehand wat op die gepleisterde muur van die paleis skryf, reg teenoor die kandelaar. Die koning het die hand gesien terwyl dit skryf. 6Toe het die koning bleek geword, hy was baie bang, sy bene het gebewe en hy was lam van die skrik. 7Hy het hard geroep dat die voorspellers, die sterrekykers en die besweerders ingebring moes word en hy sê toe vir hulle, sy raadgewers: “Enigiemand wat kan lees wat hier geskrywe is en dit vir my kan uitlê, sal 'n koninklike kleed aangetrek word en 'n goue halsketting omgehang word, en hy sal as derde in rang regeer.”

8Al die koninklike raadgewers het ingekom, maar hulle was nie in staat om wat geskryf is, te lees en dit vir die koning uit te lê nie. 9Toe het koning Belsasar nog banger en bleker geword. Ook sy hoofamptenare het verslae gestaan.

10Onderwyl die koning en sy hoofamptenare aan die praat was, het die koningin die eetsaal binnegekom. “Mag die koning baie lank lewe!” het sy gesê. “U moenie so bang en bleek wees nie. 11Daar is 'n man in u koninkryk in wie die gees van die heilige gode is. In die dae van u voorganger is daar gevind dat hy skranderheid, insig en wysheid het soos dié van die gode. U voorganger, koning Nebukadnesar self, het hom aangestel as hoof van die towenaars, die voorspellers, die sterrekykers en die besweerders. 12Hierdie man Daniël vir wie die koning die naam Beltsasar gegee het, het buitengewone bekwaamheid en kennis en insig om drome uit te lê, probleme op te los en moeilike dinge te ontrafel. Laat haal nou vir Daniël, en hy sal vir u die uitleg gee.”

13Daniël is toe na die koning toe gebring, en die koning het vir hom gevra: “Is jy die Daniël uit die Judese ballinge wat deur my voorganger die koning hierheen gebring is uit Juda? 14Ek het gehoor dat die gees van die gode in jou is en dat jy oor skranderheid, insig en buitengewone wysheid beskik. 15Die raadgewers, die voorspellers, is na my toe gebring sodat hulle kan lees wat geskryf is, en dit vir my kan uitlê, maar hulle is nie in staat om 'n uitleg te gee nie.

16“Ek het gehoor jy kan dinge uitlê en probleme ontrafel. As jy dan nou vir my kan lees wat geskryf is, en dit kan uitlê, sal daar vir jou 'n koninklike kleed aangetrek word en 'n goue halsketting omgehang word, en sal jy as derde in rang regeer.”

17Toe het Daniël die koning geantwoord: “Hou gerus maar u geskenke en gee u beloning maar aan iemand anders. Ek sal in elk geval vir u lees wat geskryf is en dit vir u uitlê.

18“Die allerhoogste God het aan u voorganger Nebukadnesar koningskap en mag, roem en eer gegee. 19Vanweë hierdie mag wat God hom gegee het, het al die volke, nasies en taalgroepe vir hom gesidder en gebeef. Hy het doodgemaak wie hy wou en hy het laat lewe wie hy wou; hy het verhoog wie hy wou en hy het verneder wie hy wou. 20Maar toe hy hoogmoedig en verwaand geword het, is hy uit die koningskap afgesit en het hy sy roem verloor. 21Hy is uit die menslike samelewing uitgestoot en het soos die wilde diere geword; hy het saam met die wildedonkies gebly en moes gras eet soos beeste; hy is snags deur die dou van die hemel natgemaak. Hy moes erken dat die allerhoogste God mag het oor die koninkryke op aarde en daaroor aanstel wie Hy wil. 22Maar u, Belsasar wat hom opgevolg het, u het u nie verootmoedig nie, alhoewel u dit alles weet. 23U het verwaand opgetree teenoor die Here in die hemel: die bekers uit sy tempel is na u toe gebring en u en u hoofamptenare, u vrouens en u byvrouens het daaruit wyn gedrink. U het die gode van silwer en goud, en van brons, yster, hout en klip geprys, gode wat nie kan sien nie en nie kan hoor nie en niks weet nie. U het nie die God geëer van wie u die lewensasem ontvang en wat oor u lewe beskik nie. 24Daarom is die hand deur Hom gestuur en is hierdie woorde geskrywe.

25“Dit is die woorde wat geskrywe is: ‘Getel, getel, geweeg en verdeel.’ 26En dit is die betekenis van die woorde: ‘Getel’: God het die jare van u koningskap getel en 'n einde daaraan gemaak. 27‘Geweeg’: u is geweeg en te lig bevind. 28‘Verdeel’: u koninkryk is verdeel en aan die Mediërs en die Perse gegee.”

29Daniël is toe op bevel van Belsasar 'n koninklike kleed aangetrek en 'n goue halsketting omgehang, en hy is uitgeroep as regeerder, derde in rang in die koninkryk.

30Daardie nag is koning Belsasar van die Galdeërs vermoor.

Jesaja se profesie moes vir die mense van sy tyd baie vreemd geklink het. Hy praat onder andere van die vernietiging van Babel, ʼn moondheid wat eers sowat 85 jaar na sy dood sterk gestaan het. Jesaja vertel dat hulle deur die Mediërs verslaan sou word, ʼn moondheid wat op daardie stadium nog nie eers aan bewind was nie. Jesaja praat dus oor gebeure en mense wat in sy leeftyd nie bestaan het nie. Hierdie profesieë is later vervul, presies soos Jesaja dit voorspel het – ʼn ongelooflike illustrasie van die grootheid van God.

Babel is geheel en al vernietig, presies soos Jesaja geprofeteer het. Die dik mure, wat die stad eens beskerm het, is verwoes en die stad is in puin gelê. Die Mediërs en die Perse waarvan hy skryf, was ʼn mag wat nie in sy leeftyd bestaan het nie. Die Mediërs was ʼn klein nomadiese groep en tog het hy geprofeteer dat hulle Babel sou vernietig. Dit is honderde jare later vervul toe Darius die Mediër vir koning Belsasar vermoor het (Daniël 5).

Wanneer ʼn mens hierdie eeue oue profesieë lees in die lig van die geskiedenis wat aan ons bekend is, is dit duidelik dat Jesaja dit met leiding van die Heilige Gees neergeskryf het – hy het nie hierdie dinge opgemaak nie.

Ons kan seker wees dat daar niks in hierdie wêreld is wat die regverdige oordeel van God kan deurstaan nie. Kom ons hou dus ons oë gerig op dit wat saak maak – God en sy beloftes aan ons.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS