Bible Society of South Africa
Xanthe Galanis

Hy is altyd by jou – Dag 4

ʼn Ongemaklike bondgenootskap

Bybelteks(te)

JESAJA 7

7Maar so sê Ek, die Here jou God:

Dit sal nie plaasvind nie,

dit sal nie gebeur nie,

8want dit is maar net Damaskus wat die hoofstad van Aram is en net Resin wat die koning van Damaskus is. Efraim sal binne vyf en sestig jaar so verwoes word dat hy geen volk meer sal wees nie, 9want dit is maar net Samaria wat die hoofstad van Efraim is en net Peka seun van Remalja wat koning van Samaria is.

Maar ook julle sal nie standhou

as julle nie in geloof standhou nie.

JESAJA 7:7-9AFR83Maak oop in die Bybelleser

JESAJA 8

Jesaja se seun as teken

1Die Here het vir my gesê: Vat 'n stuk leer en skryf daarop met 'n pen: Plunder en roof is naby.

JESAJA 8

9Doen maar kwaad, volke, julle sal inmekaar stort!

Luister, al julle ver plekke van die aarde!

Maak maar klaar vir die geveg, julle sal inmekaar stort!

Maak maar klaar vir die geveg, julle sal inmekaar stort!

10Smee maar planne, dit sal verydel word! Pleeg maar oorleg,

daar sal niks van kom nie! God is by ons!

JESAJA 8:9-10AFR83Maak oop in die Bybelleser

2 KONINGS 16

8Agas het die silwer en die goud wat in die huis van die Here en in die skatkamers van die paleis was, gevat en as geskenk aan die koning van Assirië gestuur.

2 KONINGS 16:8AFR83Maak oop in die Bybelleser

In gister se Vers-ʼn-dag het ons van Jesaja se profesie oor die val van die bondgenootskap tussen Sirië en Israel gelees (Jesaja 7:7-9). Nou profeteer hy weer oor dieselfde geleentheid. Jesaja vat ʼn stuk leer en skryf daarop met ʼn pen: “Plunder en roof is naby” (Jesaja 8:1). Dit was ʼn openbare boodskap wat almal kon lees en verstaan. Jesaja het op daardie stadium nie geweet dat dit die naam sou wees van sy seun wat nog gebore moes word nie.

Plunder-en-Roof-is-Naby is die langste naam in die Bybel en die betekenis daarvan spreek vanself. Die seuntjie wat hierdie naam gekry het sou almal aan die boodskap van die Here herinner. Binne ʼn paar maande sou die Assiriërs Damaskus en Samaria binneval en op alles van waarde beslag lê.

Plaas jouself in koning Agas se skoene. Gister het ons gelees dat hy besluit het om eerder die koning van Assirië as vir God te vertrou. Hy het die goud en silwer in die paleis gevat en vir die Assiriese koning gegee om hom om te koop om sy vyande, Sirië en Israel, vir hom te verslaan (2 Konings 16:8). Die Koning van Assirië het aan sy versoek voldoen en ek kan my indink dat Agas heel tevrede met homself was. Agas kon egter nie die Assiriërs beheer nie en hulle geweld en verwoesting lei uiteindelik ook tot die vernietiging van Juda.

Maar hoekom het Jesaja die seuntjie se naam op ʼn stuk leer geskryf vir almal om te sien nog voor sy geboorte? Jesaja se profesie was ʼn bewys dat die Here in beheer is – nie Agas se strategieë of die militêre mag van die Assiriërs nie.

Was jy al in ʼn soortgelyke posisie as koning Agas? Was daar al ʼn geval waar jy jouself of iemand anders vertrou het en dit het goed uitgewerk? Miskien het jy toe gedink dinge het reg verloop danksy die invloed van iemand anders en nie danksy die krag van God nie.

Vandag, net soos in die tyd van Jesaja, word onbeheerbare omstandighede steeds deur God beheer. Moenie by God se vyande aansluit bloot omdat dinge in die toekoms kan verander nie. God bly in beheer in elke situasie en in alle omstandighede.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS