Bible Society of South Africa
Xanthe Galanis

Hy is altyd by jou – Dag 3

ʼn Belofte vir donker dae

Bybelteks(te)

JESAJA 7

3Die Here het toe vir Jesaja gesê: Vat jou seun Sear-Jasub saam en gaan ontmoet vir Agas op die pad na die Bleikveld toe by die punt van die kanaal uit die boonste dam. 4Sê vir hom: Bedaar! Bly kalm! Moenie bang wees nie! Moet jou nie ontstel oor hierdie twee stukke brandhout nie, hulle rook net. Moenie bang wees vir die dreigemente van Resin en sy Arameërs en van Peka seun van Remalja nie.

JESAJA 7:3-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

Koning Agas was aan bewind ʼn lang tyd nadat Dawid se koninkryk reeds in twee geskeur het. Israel, die noordelike koninkryk, het gereeld afgedwaal van die weë van die Here. Juda, die suidelike koninkryk, het heen en weer beweeg onder die heerskappy van gelowige en ongelowige konings. Agas was een van die ongelowiges.

In Jesaja 7 kom Agas voor die grootste probleem in sy lewe te staan. Jerusalem is in gevaar om binnegeval te word. Sy koninkryk, om nie eers van sy lewe te praat nie, is in gevaar om tot ʼn einde te kom. God stuur sy profeet Jesaja om met Agas by die kanaal by die boonste dam buite die dorp te gaan praat en om ʼn belofte aan hom te gee. Hy sê vir hom om kalm te bly en nie moed te verloor omdat ander konings probeer om Juda binne te val nie. Deur Jesaja vertel die Here vir Agas dat sy bekommernis ongegrond is en dat die konings wat hom bedreig binnekort self sal val.

Maar Agas was nou nie juis bekend daarvoor dat hy God vertrou nie en hierdie keer was geen uitsondering nie. Hy kon nie verby sy huidige omstandighede kyk en God genoeg vertrou dat wat ook al Hy in die toekoms gaan doen, genoeg sal wees om die probleme van die hede te hanteer nie.

Deur Jesaja nooi die Here Agas uit om Hom vir ʼn teken te vra – enige teken, maar Agas verwerp die aanbod. En tog gee die Here vir hom ʼn teken, ʼn belofte vir die toekoms: “ʼn Jong vrou sal swanger word en ʼn seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem” (Jesaja 7:14). God wou vir Agas vertel dat Hy by hom is, maar Agas kon dit nie raaksien nie.

Waaroor bekommer jy jou die meeste? Is jy ook soos Agas bekommerd oor iets wat miskien in die toekoms gaan gebeur? Onthou die Here se belofte: Hy is altyd by jou!

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS