Bible Society of South Africa
Xanthe Galanis

Hy is altyd by jou – Dag 16

Die ware betekenis van ʼn vasdag

Bybelteks(te)

JESAJA 58

4Julle vasdae loop uit op twis en rusie,

julle dam mekaar met die vuis by.

Julle kan nie op hierdie manier vas

en dan verwag dat julle gebed verhoor sal word in die hemel nie.

JESAJA 58

2Hulle vra wel elke dag na my wil,

asof hulle graag wil weet wat Ek van hulle verwag.

Hulle gee voor dat hulle 'n nasie is wat doen wat reg is

en hom aan die bepalings van sy God hou.

Hulle vra My wel om regverdige beslissings

asof hulle van my teenwoordigheid hou.

JESAJA 58

7Is dit nie dat jy vir dié wat honger is,

van jou brood gee nie,

dat jy aan die armes en die dakloses 'n blyplek gee nie,

dat wanneer jy iemand sonder klere sien,

jy vir hom klere gee nie,

dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie?

In die antieke tye het Jode bekendgestaan as wat vandag beskou sal word as ʼn “godsdienstige” nasie. Hulle het groot klem gelê op rituele, seremonies en tradisies. Hulle liefde vir die seremoniële sou almal wat hulle dopgehou het oortuig dat hulle ʼn nasie is wat reg doen (Jesaja 58:2) Al hulle godsdienstige praktyke het egter so belangrik geword dat hulle die dieper geestelike sy van hulle verhouding met God heeltemal uit die oog verloor het. Hulle liefde vir rituele was groter as hulle liefde vir God of vir mekaar.

Jesaja 58 handel hoofsaaklik oor een van die Jode se godsdienstige praktyke – vas. Die Jode het ongetwyfeld die vasdag “reg” uitgevoer ten opsigte van al die uiterlike vereistes wat dit betref. Maar let op al die ander dinge wat aan die gang was. Hulle het hulle werkers uitgebuit en onder mekaar baklei. God het verby die korrekte uitvoer van hulle tradisies en rituele gekyk en gesien hoe verkeerd en sleg hulle houding was!

Te midde hiervan kom Jesaja en vertel vir hulle dat hulle vasdae ʼn leë ritueel is en dat God geen behae daarin het nie. Hy verduidelik dan vir hulle wat ʼn ware vasdag is: “Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ʼn blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie?” (Jesaja 58:7).

Die Here wil hê dat ons mense van woord en daad moet wees en deernis met ander moet hê. Om te vas beteken nie net dat jy sonder iets moet klaarkom nie, maar dat jy iets van jouself aan ander sal gee. Jy vas en kom sonder kos klaar sodat ander kan eet. Miskien moet jy ou klere dra en jou beste klere gee vir iemand wat geen klere het nie. Miskien moet jy jou deur vir ʼn vreemdeling oopmaak en jou huis met iemand deel wat geen heenkome het nie. Om te vas kan ook beteken dat jy jouself vir jou vriende en familie beskikbaar stel, al is dit ongerieflik en teen jou sin.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS