Bible Society of South Africa
Xanthe Galanis

Hy is altyd by jou – Dag 15

Die Messias

Bybelteks(te)

JESAJA 53

5Oor óns oortredings is hy deurboor,

oor óns sondes is hy verbrysel;

die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom,

deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.

In 1741 het Charles Jennens ʼn indrukwekkende lys van Skrifgedeeltes saamgestel om die ware verhaal van die Christuskind te vertel. Jennens het 73 teksverse uit beide die Ou Testament en die Nuwe Testament gekies om sy verhaal te vertel. Twee-en-twintig van hierdie teksverse het uit die boek Jesaja gekom. Daarna het Jennens hierdie versameling Skrifgedeeltes aan sy goeie vriend, George Frideric Händel, gestuur.

In ʼn tyd toe ongeletterdheid algemeen was en eksemplare van die Bybel duur en skaars was, het hierdie lys van Jennen vir Händel baie opgewonde gemaak. Händel was reeds bekend met oratoriumskomposisies wat gebruik is om veral dele uit die Bybel te toonset. Hy het besef dat ʼn oratorium oor die lewe van Jesus van groot belang sou wees en het dadelik aan die werk gespring. Binne slegs 24 dae het hy een van die mees geliefde en mees gerespekteerde oratoriums van alle tye gekomponeer. Jy het dit moontlik al gehoor: die Messias van Händel.

Die boek Jesaja is baie prominent in Händel se Messias. Maar veral een hoofstuk kom verskeie kere voor – Jesaja 53. Tog is Jesaja 53 belangriker as Händel se gewyde musiek om groter redes. Dit is ʼn heenwysing na die lyding en dood van die Messias, God se gesalfde dienskneg.

Christus se lyding en dood aan die kruis is die kern van die Evangelie. Ons sondes was die oorsaak dat Jesus moes ly en sterf en deur sy lyding en dood is ons genees. Omdat Jesus gely en vir ons gesterf het, is ons sondes vergewe en is daar vrede tussen ons en God. Ons het die ewige lewe ontvang en ons is met God versoen.

Die storie lui dat ʼn entoesiastiese lid van die gehoor Händel gelukgewens het met ʼn wonderlike stuk “vermaak” na die eerste uitvoering van die Messias. “Vermaak!?” het Händel gereageer. “Dit was nie my doel om te vermaak nie, maar om mense te onderrig.”

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS