Bible Society of South Africa
Xanthe Galanis

Hy is altyd by jou – Dag 14

Lieflike voete!

Bybelteks(te)

JESAJA 52

7Hoe wonderlik klink op die berge

die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring,

wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring,

wat redding aankondig,

wat vir Sion sê: “Jou God is Koning!”

ROMEINE 10

13want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

14Maar hoe kan 'n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? 15En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.”

ROMEINE 10:13-15AFR83Maak oop in die Bybelleser

Nee, hierdie is nie ʼn advertensie vir ʼn pedikuur nie! Inteendeel, ek dink die voete van die boodskapper waarvan Jesaja hier praat was alles behalwe mooi glad en sag. Jesaja beskryf hier ʼn beleërde stad wat angstig wag vir die boodskapper om hulle van die uitkoms van die geveg te kom vertel. Is dit goeie nuus? Het hulle gewen? Sal hulle vry wees? Is hulle verslaan? Dan begin hulle voetstappe hoor. Die boodskapper kom nader en die mense wat hom dophou besef dat hy nie net hardloop nie maar ook dans. Die goeie tyding wat die boodskapper bring versprei deur die stad en sy voete word as “lieflik” beskryf.

Die feit dat Kores Babel verslaan het, is goeie nuus vir die Joodse ballinge want dit beteken dat hulle vrygelaat gaan word. Die goeie nuus vir vandag is dat Christus gekom het om ons van sonde en die dood te bevry. Paulus haal ʼn gedeelte van Jesaja 52:7 aan in Romeine 10:13-15 wanneer hy die rol wil beklemtoon van gelowiges om die evangelie te verkondig: “Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!”

Ons as Christene is geroep om lieflike voete te hê – om die evangelie te verkondig dat ons vrygemaak is. Dit is nie ʼn glansryke taak nie en ons gaan waarskynlik blase kry, maar dit is ons verantwoordelikheid om die goeie nuus met almal te deel.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS