Bible Society of South Africa
Xanthe Galanis

Hy is altyd by jou – Dag 13

Sondige keuses – ʼn voorspelbare einde

Bybelteks(te)

JESAJA 50

Julle is oor julle sondes verkoop

1So sê die Here:

Waar is die skeibrief wat Ek vir jou moeder gegee het

toe Ek van haar geskei het?

Of aan wie het Ek geld geskuld

dat Ek julle daarvoor aan hom gegee het?

Nee, dit is oor julle sondes dat julle verkoop is,

oor julle oortredings dat Ek van julle geskei het.

2Waarom was daar niemand toe Ek gekom het nie?

Waarom het niemand geantwoord toe Ek geroep het nie?

Is Ek nie in staat om te verlos nie,

het Ek nie die krag om te red nie?

Wanneer Ek die see aanspreek, droog hy op.

Ek laat riviere opdroog:

die visse stink, daar is nie water nie,

hulle vrek sonder water.

JESAJA 50:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

JESAJA 50

Wie wil my aankla?

4Die Here my God het my geleer

om die regte woorde te gebruik

sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat.

Elke môre laat Hy my opnuut weer luister,

Hy laat my luister soos 'n leerling moet luister.

DEUTERONOMIUM 24

Oor skei en hertrou

1“Wanneer 'n man met 'n vrou trou, kan dit gebeur dat hy haar nie meer liefhet nie omdat hy iets onbetaamliks aan haar gevind het. Dan mag hy 'n skeibrief skryf en dit vir haar gee en haar uit sy huis uit wegstuur. 2Sy kan dan uit sy huis uit gaan en met 'n ander man trou. 3As haar tweede man haar ook later nie meer liefhet nie en 'n skeibrief skryf en dit vir haar gee en haar uit sy huis uit wegstuur, of as haar tweede man sterf, 4mag haar eerste man wat haar weggestuur het, nie weer met haar trou nie. Sy is verontreinig, en as hy weer met haar trou, sal dit vir die Here iets afskuweliks wees. Jy mag nie die land wat die Here jou God vir jou as besitting sal gee, onder jou sonde laat ly nie.”

DEUTERONOMIUM 24:1-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

Om vandag se Skrifgedeelte te kan begryp moet ons iets van die Joodse wette verstaan. Die profeet gebruik die wette van Moses in verband met egskeiding en slawerny as ʼn analogie om te verduidelik dat Juda van God geskei is as gevolg van haar eie sondes.

Die wette van Moses het bepaal dat ʼn man vir sy vrou ʼn skeibrief moes gee wanneer hy van haar wou skei (Deuteronomium 24:1-4). Hier in Jesaja sê die Here dat Hy nie amptelik van Juda geskei is nie. Hy impliseer ʼn tydelike skeiding tussen “man en vrou” as gevolg van Juda se sondes. Die Here het nie skuldeisers nie, maar Hy het wel sy “kinders” as gevolg van hulle sondes verkoop. Dit was hulle eie optrede wat daartoe gelei het dat hulle as slawe na Babel weggevoer is.

Ons lees ook dat die Here sy kinders wou red, maar hulle het Hom nie geantwoord nie. Dit was Juda wat die Here verwerp het en nie andersom nie. Toe Hy terugkom om haar te red, was daar niemand om Hom te groet nie. Hulle het ook verkies om nie die profete te glo wat gesê het dat hulle ballingskap in Babel net tydelik is nie. Hulle het gedink dat dit nie vir die Here moontlik is om hulle te red nie.

Hoe meer tyd ons saam met die Here deurbring, hoe minder sondige keuses sal ons maak. In Jesaja 50:4 lees ons: “Die Here my God het my geleer om die regte woorde te gebruik sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat. Elke môre laat Hy my opnuut weer luister, Hy laat my luister soos ʼn leerling moet luister”. Begin sommer vandag en neem vyf minute in die oggend om jou Bybel te lees en te luister na wat die Here vir jou wil leer.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS