Bible Society of South Africa
Xanthe Galanis

Hy is altyd by jou – Dag 12

ʼn Fyn uitgewerkte plan

Bybelteks(te)

JESAJA 44

Ek is die Here, Ek doen al hierdie dinge

24So sê die Here jou Verlosser

wat jou in die moederskoot gevorm het:

Ek is die Here, Ek het alles geskep,

Ek alleen het die hemel oopgespan,

Ek het die aarde gevorm; daar was niemand by nie.

JESAJA 44:24AFR83Maak oop in die Bybelleser

JESAJA 44

27Ek sê vir die diep waters van Babel: Droog op!

Ek sal jou riviere laat opdroog.

28Ek sê vir Kores: Ek het jou as herder aangestel,

jy moet my wil uitvoer,

jy moet van Jerusalem sê:

“Hy moet weer opgebou word

en die tempel moet herstel word.”

JESAJA 44:27-28AFR83Maak oop in die Bybelleser

ESRA 1

Die proklamasie van Kores

1In die eerste regeringsjaar van koning Kores van Persië is die belofte vervul wat die Here by monde van Jeremia uitgespreek het: die Here het koning Kores van Persië laat besluit om dwarsoor sy ryk 'n proklamasie te laat afkondig. Die proklamasie, wat ook skriftelik was, het soos volg gelui:

2“Koning Kores van Persië maak bekend: Die Here die God van die hemel het al die koninkryke van die aarde aan my gegee. Hy het my beveel om vir Hom 'n tempel in Jerusalem in Juda te bou. 3Enigiemand onder julle wat aan sy volk behoort – mag sy God by hom wees – mag na Jerusalem in Juda toe gaan en die tempel gaan bou vir die Here die God van Israel. Hy is God in Jerusalem.

Daar is iets anders aan hierdie spesifieke profesie. Iemand word op die naam genoem eerder as om bloot ʼn algemene beskrywing of instruksie te gee. Onthou julle wat ons gister gelees het? God ken elkeen van ons se naam want ons behoort aan Hom. Verder deel Hy die toekoms met ons.

In hierdie Skrifgedeelte word die toekoms voorspel en die Here noem ʼn spesifieke individu op die naam. Hy het Kores reeds voor sy geboorte geken. Volgens inligting wat in Jesaja en in Esra 1:1-3 voorkom kan ons aflei dat Kores die koning van Persië sou word; die koning wat opdrag sou gee om die tempel in Jerusalem te herbou. Volgens Bybelgeleerdes het Jesaja 150 jaar vooruit voorspel dat Kores sou heers!

Let op die verwysing na “die diep waters” en die riviere wat gaan opdroog. Wat het dit met Kores te doen? In 539 v.C. het Kores die stad Babel beleër. Die inwoners was egter nie bekommerd nie want hulle het genoeg voorraad vir 20 jaar in hulle store gehad. Die Persiese leër het egter die Eufraatrivier herlei wat onder die stad Babel deurgeloop het. Die watervlak het gedaal en die Persiese leër kon in die rivierbedding onder deur die poorte van die stad gaan om die stad binne te val. Babel het in die hande van Kores geval.

Ons het ʼn God wat nie net die toekoms ken nie, maar Hy ken elke detail oor wat gaan kom. Hy weet wat op ons wag en sy plan vir sy kinders is in die fynste besonderhede uitgewerk. Hierdie God ken jou persoonlik en Hy het ook ʼn fyn uitgewerkte plan vir jou lewe.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS