Bible Society of South Africa
Xanthe Galanis

Hy is altyd by jou – Dag 11

Jy is Myne!

Bybelteks(te)

JESAJA 43

Jy is Myne

1Luister, so sê die Here

wat jou geskep het, Jakob,

wat jou gevorm het, Israel:

Moenie bang wees nie, Ek verlos jou,

Ek het jou op jou naam geroep,

jy is Myne.

2As jy deur water moet gaan, is Ek by jou,

deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie;

as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie,

die vlamme sal jou nie brand nie,

JESAJA 43:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Jy het seker al dikwels gehoor iemand sê: “Moenie bekommerd wees nie. Die Here het ʼn plan!” Glo jy dit altyd? Of is daar soms kere wat jy dink: “Het Hy werklik ʼn plan met my lewe? Hoe weet ek dat ek sy plan kan vertrou?”

Jesaja herinner ons daaraan dat God ons Skepper is, die Een wat ons gemaak het. Wanneer ons iets maak het ons gewoonlik ʼn doel daarmee. Is ons dan nie ook verplig om aan sy verwagtinge te voldoen aangesien hy ons gemaak het nie? Indien ons dit nie doen nie, loop ons nie dalk die gevaar om deur ʼn kwaadwillige en wraakgierige God gekonfronteer te word nie?

Ons Skepper sê egter onmiddellik dat ons nie bang moet wees nie en Hy gee ook redes daarvoor. Eerstens is Hy die Een wat ons verlos het. Dit dui op die wonderlike terugkoopplan van Jesus Christus wat deur sy dood duur aan die kruis betaal het om sy kinders vry te koop. Tweedens sê Hy dat Hy ons by die naam geroep het. Lees weer ons Skrifgedeelte vir vandag en vervang Jakob en Israel met jou naam. Hoe laat dit jou voel? Die Here belowe dat Hy ons nooit sal verlaat nie en Hy sê baie duidelik dat ons aan Hom behoort. Hier het ons te make met ʼn Skepper wat sy skepping liefhet. Wanneer jy iemand by die naam ken beteken dit dat jy hom persoonlik ken. Die persoon is nie net ʼn gesig of ʼn nommer nie. Die Here wil elkeen van ons persoonlik ken en Hy wil ʼn persoonlike verhouding met ons elkeen hê.

Elkeen van ons moet ook ʼn verhouding met God hê. Wanneer ons volkome afhanklik van Hom is, is ons besig om ons doel hier op aarde te vervul.

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS