Bible Society of South Africa
Xanthe Galanis

Hy is altyd by jou – Dag 10

God se vergifnis bring troos

Bybelteks(te)

JESAJA 40

Soos 'n herder versorg Hy sy kudde

1Die uitkoms is hier!

Die uitkoms is hier!

Dit, sê julle God, moet julle vir my volk sê.

2Bring vir Jerusalem die goeie tyding,

sê vir hom

sy swaarkry is verby,

hy het geboet vir sy sonde,

hy het van die Here die volle straf ontvang

vir al sy sondes.

JESAJA 40:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

JESAJA 60

13Die hoë bome van die Libanon sal na jou toe kom,

sipresse, platane en denne,

om die roem van my heiligdom te vermeerder,

om luister te verleen aan my tempel:

JESAJA 60:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

In Jesaja 40 spreek God sy verlange uit om sy volk te vergewe en te vertroos. Die eerste 39 hoofstukke van die boek van Jesaja is alles behalwe vertroostend. Dit bevat hoofsaaklik ʼn boodskap van veroordeling van die volke, koninkryke, stede en mense. Hier in hoofstuk 40 is daar egter ʼn verandering in dit waarop die profesie fokus – nou is daar uitkoms en vertroosting vir die volk van God na al hulle swaarkry.

Die Hebreeuse werkwoord wat as “troos” vertaal word, beteken om iemand te vertroos en te kalmeer. Hierdie selfde werkwoord kom later in Jesaja voor wanneer die Here sê: “Soos ʼn moeder haar kind laat veilig voel, so laat Ek julle veilig voel. Julle sal veilig voel in Jerusalem” (Jesaja 66:13). Vir Juda kom die Here se troos veral deur die goeie nuus en dat God hulle weer sal herstel.

Die Here troos ons steeds elke dag op verskillende maniere. Neem ons ons bekommernisse in gebed na Hom, skenk Hy ons sy vrede. Wanneer ons Hom dank vir sy trou in die verlede, maak dit ons kalm in die hede. Dikwels vertroos die Here ons deur sy kinders wat vir ons omgee, saam met ons ly, vir ons bid en die Here se liefde op verskeie tasbare maniere met ons deel. Dit beteken dat ons nie net die voorreg het om troos van die Here te ontvang nie, maar om ook instrumente te wees wat sy troos met ander deel.

Dink aan die verskeie kere wat God jou in die verlede vertoos het en onthou dat Hy getrou is indien jy vandag sy vertroosting nodig het. Is daar iemand in jou lewe wat troos benodig? Is jy gewillig om vandag die Here se instrument te wees om daardie persoon te vertroos?

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS