Bible Society of South Africa

God van liefde, hoop, genade en vrede – Dag 9

Wie is God (i)

Bybelteks(te)

JOB 36

26God is groot, ons kan sy grootheid nie begryp nie,

sy jare kan nie bereken word nie.

“God is groot, ons kan sy grootheid nie begryp, sy jare kan nie bereken word nie.” (Job 36:26)

Die Bybel beskryf God se almag vanaf die eerste hoofstuk tot aan die einde. God se grootheid as Skepper, Onderhouer, Heerser, Wysgeer, Geneesheer, Redder en Leier word deur soveel skrywers en digters bespreek en besing en steeds voel dit asof woorde ontbreek om sy wese weer te gee.

Die slim menslike brein wat mense op die maan laat loop, vliegtuie van 650 ton in die lug kan hou en atome kan laat split, staan stom voor God se grootheid. Biblioteke gevul met eeue se geskrifte, beelde en kunswerke probeer gestand doen aan die glorie van God, maar slaag maar telkens daarin om sekere eienskappe van God te belig.

Aartsbiskop Anselmus van Kantelberg het gesê dat God daardie wese is met wie absoluut niks of niemand naastenby vergelyk kan word nie.

Isak de Villiers skryf:

Sal ek U ooit kan ken?

Sal ek U ooit kan dínk-ken?

ráák-ken?

vóél-ken?

Of U oor en oor kan vergelyk

met iets wat anders is,

wat min of meer soos U is,

wat ek kan verstaan?

Niks is soos U nie.

Hierdie wonderlike God is my Skepper en my Redder. Sal ek nie meermale net stilbly en stilraak om in verwondering vir God te aanbid nie?

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS