God van liefde, hoop, genade en vrede – Dag 6
Word stil
Bybelteks(te)
MARKUS 6
“Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: ‘Kom julle alleen saam na ʼn stil plek toe en rus ʼn bietjie.’ ” (Markus 6:31)
Die dissipels keer terug van hulle sending nadat Jesus hul twee-twee uitgestuur het om mense tot bekering te bring en siekes gesond te maak. Hulle doen verslag aan Jesus, maar word so deur die mense oorval dat daar skaars tyd is om te eet. En dan neem Jesus beheer oor die situasie en sê: “Kom julle alleen saam na ʼn stil plek toe en rus ʼn bietjie.”
Jesus maak tyd vir afsondering ten spyte van sy vol program, maar ook júís omdat sy program so vol is. Dis hierdie perspektief wat ons sukkel om te snap – om méér tyd vir stilwees te maak wanneer ons program druk raak; om meer tyd in afsondering deur te bring.
Hierdie tye vir stilwees gaan nie vanself te voorskyn kom nie. Dit moet geskep word. Daar moet ʼn wilsbesluit geneem word om dit te maak. Daar moet fisies “gehokaai” word. In ʼn vorige huis waar ons gebly het, kon ʼn mens snags duidelik hoor hoe groot vragmotors moes afrat om by die rooi verkeerslig te stop. So moet ons ook gereeld “afrat” en afskaal om rus te vind. Dis slegs dan wat ons in staat is om perspektief te behou en krag te herwin.