Bible Society of South Africa

God van liefde, hoop, genade en vrede – Dag 5

Bekommernis

Bybelteks(te)

FILIPPENSE 4

6Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

FILIPPENSE 4:6-7AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.” (Filippense 4:6-7)

Paulus het hierdie brief aan die Filippense geskryf toe hy in die tronk was. Ek moet sê, dit klink nie vir my na die woorde wat ek van iemand verwag wat onskuldig in die tronk aangehou word nie! Maar omdat Paulus “die vrede wat alle verstand te bowe gaan” daar midde in sy omstandighede ervaar, kan hy vir die gelowiges in Filippense raad gee en bemoedig. Paulus het in die tronk vir God geloof; hy het sy behoeftes voor God gelê. Hy het geweet dis in goeie hande – hy het vrede! Ek kan net dink watter krag hierdie getuienis gehad het toe die gemeente in Filippi sy brief ontvang en dit voorgelees word! “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.”

Ek het eendag ʼn Whatsapp ontvang van ʼn prentjie van ʼn piepklein muis met ʼn reuseskaduwee wat oor hom leun. Op die prentjie was die volgende woorde: “Worries gee klein dingetjies groot skaduwees!” Bekommernis laat die kleinste probleem reusagtig lyk. Hoeveel tyd mors ons tog nie omdat ons ons bekommer oor dinge wat dálk kan gebeur nie. Daar is ʼn ou Engelse spreekwoord wat lui: “Worry is an old man with bended head, carrying a load of feathers which he thinks are lead.” Hiermee sê ek nie dat daar nie gewigtige dinge in jou lewe is nie, maar eerder dat ons dikwels deur ʼn lang getob van ons probleme monsters maak.

God wil hê dat sy kinders volkome vrede moet ervaar. Hy nooi ons uit om ons probleme en ons laste na Hom te bring. Wat jou ook al vandag pla, plaas dit in God se hande en los dit daar.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS