Bible Society of South Africa

God van liefde, hoop, genade en vrede – Dag 2

Jy is ʼn beeld van God

Bybelteks(te)

PSALMS 8

6U het hom net 'n bietjie minder as 'n hemelse wese gemaak

en hom met aansien en eer gekroon,

PSALMS 139

13U het my gevorm,

my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder.

PSALMS 139:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

“U het hom net ʼn bietjie minder as ʼn hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon.” (Psalm 8:6)

Hierdie “hom” waarvan die psalmdigter skryf, is jý wat nou hierdie woorde lees. God het jóú amper soos ʼn hemelse wese gemaak en aan jou aansien gegee. Hy het kwaliteit ingedagte gehad toe Hy jou gemaak het. In Genesis 1:26 lees ons dat God besluit om die mens te skep as sy verteenwoordiger, as sy beeld. Na alles wat Hy gemaak het, het Hy gekyk en besluit dat dit goed was. Of liewer, met die evaluering van die mens, was God van mening dat dit “baie goed” was!

God kyk vandag na jou met verwondering. In sy oë is jy asemrowend. Hy droom oor jou, Hy is opgewonde oor jou, en Hy maak planne vir jou. Behalwe daarvoor dat Hy jou met soveel sorg geskep het, het Hy deur Jesus se kruisdood boonop bewerkstellig dat jy mede-erfgenaam saam met Christus is!

Ek en jy – amper hemelse wesens, verteenwoordigers van God, beeld van God – hoe handhaaf ons onsself elke dag? Leef ons as beelddraers van die Almagtige, as erfgename van die enigste God? Herinner ons onsself daaraan dat ons die kroon van God se skepping is en daarvolgens moet optree?

Wanneer jy vandag by ʼn spieël verbyloop, talm ʼn oomblik, kyk na jou beeld en probeer raaksien wat God sien. “U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ʼn wonderbaarlike wyse geskep.” (Psalm 139:13)

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS