Bible Society of South Africa

God van liefde, hoop, genade en vrede – Dag 1

Jy is ʼn heilige!

Bybelteks(te)

LEVITIKUS 11

44Ek is die Here julle God. Wy julle aan my diens en wees heilig, want Ek is heilig. Julle mag julle nie verontreinig met enige van die kleiner diertjies wat volop voorkom in die veld nie.

LEVITIKUS 11:44AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Wees heilig, want Ek is heilig.” (Levitikus 11:44)

In sekere kerklike tradisies is dit “All Saints’ Day” op die eerste November. Reeds in 835 n.C. is 1 November deur die kerke as ʼn kerklike vakansiedag uitgeroep om die heiliges te onthou en te eer. Op hierdie dag word daar gedink aan hierdie vroue en manne – uit alle hoeke van die samelewing – wat uitstaande voorbeelde van geloof was. Die nagedagtenis aan byvoorbeeld iemand soos Moeder Teresa en die liefdesvoorbeeld wat sy in die agterstrate van Kalkutta gestel het, inspireer oor jare en afstand!

In die ware bybelse sin is alle gelowiges eintlik heiliges. Dit beteken nie dat gelowiges sonder sonde of beter as ander is nie. Maar gelowiges is heilig omdat hulle in ʼn verhouding met God staan en deur die inwoning van sy Gees al meer soos Hy word. In Levitikus 11:44 lees ons dat God dit as ʼn opdrag vir sy volk gee (en nie net ʼn uitgesonderde groepie onder die volk nie): “Wees heilig want Ek is heilig.” Om heilig te wees, dit wil sê, heiligmaking, is dus ʼn opdrag van God aan elkeen van sy kinders. Hy vra ons om meer en meer soos Hy te word; om so naby aan Hom te leef dat ons ʼn heilige weerkaatsing van Hom in die wêreld sal wees – ʼn weerkaatsing van sy liefde, hoop en vrede. Om ʼn heilige te wees is om ʼn suiwer kanaal van die Allerheiligste te wees. Om Hom toe te laat om sy lig deur ons op hierdie wêreld te laat val.

Mag die eerste dag van November ons aanmoedig om te volhard op die pad van heiligmaking sodat ons luidkeels kan inval by die ou liedjie:

 

“We are all traveling in the footsteps

Of those who’ve gone before

But we’ll all be reunited

On a new and sunlit shore

 

Oh when the saints go marching in

When the saints go marching in

Oh lord I want to be in that number

When the saints go marching in”.

 

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS