Bible Society of South Africa

God van liefde, hoop, genade en vrede – Dag 17

Wag die fees af (i)

Bybelteks(te)

LUKAS 2

10Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. 11Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!

LUKAS 2:10-11AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Toe sê die engel vir hulle: ‘Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ʼn goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!’ ” (Lukas 2:10-11)

Oral in die media word ons herinner dat ons inkopietyd voor Kersfees min raak. Uitstallings in winkelvensters probeer beter en helderder as die een langsaan wees in die wedloop om ons aandag te kry. In ons dagboeke is lang lyste van dinge wat ons moet afhandel voor die Kersvakansie aanbreek.

Ons as Christene maak ons in die Kerstyd gereed vir Advent. Advent is afkomstig van die Latynse woord adventus wat “koms” of “aankoms” beteken en verwys na die geboorte van Jesus Christus. Die bedoeling van die vier Adventsweke, en spesifiek die vier Adventsondae voor Kersfees, is om die Christen se gemoed en hart voor te berei om die koms of geboorte van Christus te herdenk. Hierdie voorbereiding het geheel en al ʼn ander klem as dit wat die media en winkels uitbasuin. Dis ʼn tyd van stilword en besinning. ʼn Tyd om ons gedagtes in te stel om oor die betekenis van die koms van die Messias na te dink; ʼn tyd om saam met al die gelowiges ons te verwonder oor die omvang van Christus se liefde.

Kom ons probeer om tydens die gejaagdheid tyd opsy te sit om rustig te raak en ons harte voor te berei vir wanneer Kersfees kom. Anders gaan dit, soos ander jare, weer ʼn dolle gejaag afgee en ons uiteindelik stokflou by die Kersfeesmaal tot verhaal kom. Kom ons skep in ons huise gesinstyd – tyd van rustig word, bestekopname, nuwe fokus en sinvolle gesprek. ʼn Tyd wat klem lê op Christus se liefdesoffer en ʼn tyd wat ons konsentreer om hierdie liefde in mekaar se lewens te bevestig.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS