Bible Society of South Africa

God van liefde, hoop, genade en vrede – Dag 18

Wag die fees af (ii)

Bybelteks(te)

LUKAS 2

6Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word.

“Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word.” (Lukas 2:6)

Telkens in die Bybel lees ons van ʼn sekere tyd wat aangebreek het of dat ʼn sekere tyd in vervulling gekom het. Dit voorveronderstel dat daar tyd verloop het voor hierdie bepaalde tyd. Prediker 3 noem herhaaldelik dat elke ding sy vaste tyd het. Jörg Zink skryf in sy boek Die stem van die Son hoe belangrik dit is om ʼn bepaalde tyd “af te wag”. Hy sê dat mense feeste bederf deur dit nie meer af te wag en daarvoor voor te berei nie. Jy onthou seker nog hoe jy kleintyd in spanning die dae afgewag het tot Kersfees. Hoe jy grootoog uitgesien het en die dae afgetel het. Hierdie spanning van afwagting is noodsaaklik. Dit berei jou hart en gees voor vir die vreugdevolle herdenking. John van den Berg beskryf dit so goed. Hy sê dat vreugde ʼn toestand van die hart is, maar dat die hart daarop voorberei moet word, soos ʼn riet wat met ʼn mes uitgehol en gereedgemaak word om musiek voort te bring.

Elke ding het inderdaad sy vaste tyd – dit is nou die tyd om ons innerlik en uiterlik voor te berei vir die fees. Berei jou innerlik voor deur meer tyd deur te bring met God se woord en ander sinvolle leesstof, deur toegewyde gebed, en die luister van geestelike opbouende musiek. Tasbare herinneringstekens (soos kranse, kerse , boeke, kunswerke en adventtonele) van Kersfees kan met groot vrug in jou huis geplaas word om jou en jou huismense, asook vriende en besoekers, in die stemming van die Kerstyd te bring. Want ons het immers rede om groot fees te vier oor ʼn kind wat meer as 2 000 jaar gelede gebore is en vir ons verlossing gebring het!

 

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS