Bible Society of South Africa

God van liefde, hoop, genade en vrede – Dag 13

Christus ons Voorbeeld

Bybelteks(te)

JOHANNES 13

13Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. 14As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. 15Ek het vir julle 'n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.

JOHANNES 13:13-15AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Julle noem My julle Leermeester en Here, en julle is reg, want Ek is dit. As Ek, wat julle Here en julle Leermeester is, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het vir julle ʼn voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen.” (Johannes 13:13-15)

Jesus was saam met sy dissipels aan tafel toe Hy opstaan, sy bokleed uittrek, ʼn handdoek om sy lyf vasmaak, ʼn wasskottel vat en hulle voete was en afdroog. Jesus het natuurlik geweet dat daar min tyd saam met sy dissipels oor was; so min tyd en soveel dinge wat Hy nog vir hulle moet sê. En dan maak Hy gebruik van die beste manier om iets oor te dra: Hy voeg die daad by die woord, Hy stel die voorbeeld, Hy neem die gestalte van ʼn dienskneg aan en was sy vriende se voete. En deur hierdie praktiese daad leer Christus sy kerk om te dien.

Wat my ook opval is dat Jesus tydens die normale gang van hulle saamwees ʼn geleentheid skep om te dien en dat daar op die oog af geen ware nood of krisissituasie is nie. Om tot diens van ander te wees moet dus nie net in barmhartigheidsituasies aan byvoorbeeld minderbevoorregtes plaasvind nie. Christus se opdrag geld vir alle menseverhoudings waarin ons staan.

Ferdinand Deist skryf in sy bundel Woorde van Hoop dat die Christelike selfbeeld geen plek vir hoogmoed het nie: “Die heerlikheid en grootheid van die gelowige mens word daarin bewys dat hy altyd bereid is om te dien, selfs as hy ʼn magsposisie beklee. Om elke vorm van diens skyn die glans wat die navolging van Christus daaraan gee.”

As ons as gelowiges aan hierdie opdrag getrou kan bly en as ons elke dag die voorbeeld van diensbaarheid kan uitleef, sal die wêreld ingrypend begin verander. Kom ons begin in ons eie gesin en werksomgewing.

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS