God se genade, liefde en krag – Dag 9
Hy roep jou (1)
Bybelteks(te)
LUKAS 19
Ons het al oor die tollenaar Saggeus gepraat. Hy wou graag vir Jesus sien en klim toe in ʼn boom langs die roete wat Jesus sou volg. Jesus, so blyk dit uit Matteus 21:31-32, was blykbaar op goeie voet met die tollenaars en prostitute. Seker daarom dat ook Saggeus graag vir Jesus in lewende lywe wou sien.
Saggeus was miskien bloot nuuskierig. Ek dink nie daar was werklik ʼn dieper geestelike behoefte by hom nie. Wat wel waar is, is dat hy ʼn totale nuwe lewe gevind het toe hy vanuit die boom vir Jesus sien. Was hy op soek na Jesus? Ek dink nie so nie. Eintlik het hy ander motiewe gehad wat nie vir ons duidelik uitgespel word nie. Maar in die proses het hy Jesus gevind.
En die rede waarom hy Jesus gevind het, is omdat Jesus hom gesoek het. Toe Jesus in die groep onder die boom verby beweeg waarin Saggeus gesit het, het Saggeus nie na Jesus geroep om sy aandag te trek nie. Nee, want dit was ook nie die rede waarom Saggeus in die boom gesit het nie. Hy wou vir Jesus sien, maar eintlik wou hy nie te naby aan Jesus kom nie.
Jesus besluit egter om na Saggeus te roep. Dit is opmerklik dat Jesus hom op sy naam noem. Ons is nie net gesigte in ʼn skare nie. Vir Jesus is ons mense wat Hy by die naam ken. Hy wil deel van ons persoonlike lewe wees – vandag nog. “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan” (Lukas 19:5). Saggeus, Ek staan voor die deur van jou hart, maak die deur van jou hart vandag vir My oop.