God se genade, liefde en krag – Dag 8
Hy hou van jou (2)
Bybelteks(te)
MATTEUS 11
As ʼn mens diep in jou hart glo dat jy nie goed genoeg is nie, kan dit nadelige gevolge hê – ongeag hoe jy tot hierdie geloof gekom het. Hierop reageer mense verskillend.
Sommige sal hulleself terugtrek: “Ek kan tog niks goeds doen nie.” Op hierdie manier verloor hulle hul selfvertroue. Hulle word onseker en sien nie kans om enige inisiatief te neem nie uit vrees dat hulle miskien weer geminag sal word.
Sommige sal weer uit hulle pad gaan om vir ander iets te doen in die hoop dat hulle raakgesien sal word. ʼn Derde reaksie sal wees om, as gevolg van negatiewe ervarings, self negatief op te tree. Hulle is vol kritiek op ander en kraak mense af. Hulle doen nou aan ander wat hulleself oorgekom het.
Jesus sal jou nooit verwerp nie. Hy sal nooit sê dat jy ʼn mislukking is nie, dat jy niks werd is nie. Meer as enige iemand anders weet Jesus wat dit beteken om verwerp te word, om nie liefde te ervaar nie. Hy was die Seun van God wat alles prysgegee het ter wille van ons verlossing. Die mense het smalend van Hom gesê: “Is hy dan nie die timmerman se seun nie?” In Lukas het die mense so min van sy preek gedink dat hulle Hom uit die sinagoge gegooi het.
Niemand wou Hom erken nie, ook nie die volksleiers nie. In hulle oë was Jesus net goed genoeg om aan ʼn kruis gespyker te word. Jesus het deur die hel gegaan. Maar hierdie Jesus troos ons deur te sê dat Hy ons liefhet, dat Hy ons aanvaar soos ons is. By Hom kan ons ontspan – al voel ons dom of onseker of dink ons te veel van onsself. By Hom is daar rus vir ons gemoed.