God se genade, liefde en krag – Dag 12
Hy vergewe ons vir alle sonde
Bybelteks(te)
PSALMS 32
PSALMS 32
Die Bybel praat nie baie bemoedigend oor ons as mense nie. Luister hierna: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie” (Romeine 3:11-12).
Die sonde sit diep in ons, vasgegroei. Wanneer ontdek ons dat ons sondaars is? Wanneer ons God se liefde en heiligheid raaksien. ʼn Sondebesef is nie iets wat natuurlik by ons kom nie. In beginsel wil ons nie weet dat ons sondig is nie. Wanneer ʼn mens God egter leer ken, eers dan neem ʼn mens se sondebesef toe.
Iemand vra of ʼn sondebesef en kennis van jou sonde nie tot depressiwiteit lei nie. Dit is eerder so dat hoe meer jy jou eie sonde en tekortkominge besef, hoe groter word jou dankbaarheid dat jy ʼn kind van God is.
Wanneer jy jou sonde sien, wil jy sê: “Maar ek is nie God se liefde werd nie! Hier in my lewe skiet ek tekort, daar misluk ek as mens. Ek sou baie meer goed kon doen, hoe is dit moontlik dat God met my uithou? Dat Hy sy Seun Jesus Christus vir my aan ʼn kruis laat sterf het? Is God nie ʼn groot en genadige God nie – dat Hy my ondanks my sonde tot sy kind aanneem?”
Op hierdie manier help ʼn sondebesef ʼn mens om uiteindelik God te loof en te prys. In die lig van jou sonde sal jy dankbaarder teenoor God word dat jy sy kind mag wees. Sondebesef lei nie tot depressiwiteit nie, maar eerder tot ʼn dieper vreugde oor God se liefde vir jou.