God se genade, liefde en krag – Dag 11
Hy offer sy Seun aan die kruis
Bybelteks(te)
MARKUS 14
Iemand wys daarop dat Jesus in ʼn sekere sin nie na ons wêreld gekom het om te leef nie, maar om te sterf. Jesus is nie op ʼn natuurlike manier dood nie – Hy is op ʼn heuwel buite Jerusalem, Golgota, tereggestel.
Sy dood was ʼn wrede liggaamlike lyding. Dit was ook emosioneel en geestelik ondraaglik, want almal het Hom verlaat. Die ergste was egter dat dit donker geword het en dat sy Vader Hom ook verlaat het. Hy was totaal alleen. Geen kontak met sy dissipels en volgelinge nie – ook geen kontak met die hemel nie. Die band tussen die Vader wat van Jesus gesê het, “Dit is my geliefde Seun” was verbreek. Jesus het dikwels verklaar dat Hy en die Vader Een is. Aan die kruis was Hy alleen.
Jesus was werklik godverlate. Die godverlatenheid was so erg, sê iemand, dat Jesus aan die kruis nie sy Vader as “Vader” aanspreek nie, maar op ʼn afstand as “my God”.
Waarom het alles so gebeur? Die hemelse Vader het op Golgota sy Seun verlaat, soos wat ons deur ons sonde God verlaat het. Maar God het sy Seun verlaat sodat ons tog deur die Vader as sy kinders aangeneem kon word. Op Golgota ruil die rolle om. Ons moes eintlik aan die kruis hang, maar Jesus hang daar. Hy word verlaat en in die duisternis uitgestoot – en ons word tot kinders van God aangeneem. Jesus dra die straf op ons sonde en ons kom vry anderkant uit.
Ek en jy kan weet dat ons nooit weer so eensaam of verlate kan wees as God by ons is nie. Deur Jesus is die deur na God geopen. En die wonderlikste van alles is dat die toegang gratis is. Suiwer genade.