Bible Society of South Africa

Geroep om te dien – Dag 22

Getrouheid

Bybelteks(te)

Die slawe

1Gelowiges wat as slawe onder 'n juk staan, moet hulle eienaars met alle eerbied bejeën, sodat niemand sal kwaadpraat van die Naam van God en van die Christelike leer nie. 2Slawe wat gelowige eienaars het, moet aan hulle nie minder eerbied betoon omdat hulle saam broers is nie. Hulle moet hulle eerder beter dien omdat dié wat uit hulle werk voordeel trek, met hulle een is in geloof en liefde.

Vals leer en ware rykdom

Hierdie dinge moet jy aan die mense leer en dit by hulle inskerp. 3As iemand 'n ander leer verkondig en nie hou by die gesonde woorde van ons Here Jesus Christus en by die leer van ons godsdiens nie, 4is hy verwaand en weet hy niks. Hy het 'n sieklike beheptheid met twisvrae en met stryery oor woorde. Daaruit ontstaan afguns, twis, beledigings, gemene verdagmakery, 5voortdurende rusie van mense wat verstandelik verward en van die waarheid beroof is. Hulle dink dat die godsdiens iets is om geldelike wins mee te maak. 6Die godsdiens is 'n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, 7want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. 8As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees. 9Maar dié wat ryk wil word, val in versoeking. Hulle loop hulle vas in die strik van baie sinlose en skadelike begeertes waardeur mense in verderf en ondergang gestort word. 10Geldgierigheid is 'n wortel van allerlei kwaad. Party het geld nagejaag en toe van die geloof afgedwaal; daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.

Die goeie stryd van die geloof

11Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid. 12In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God jou geroep en het jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê. 13Voor God, wat aan alle dinge die lewe skenk, en voor Christus Jesus, wat teenoor Pontius Pilatus getuienis afgelê het van die goeie belydenis, beveel ek jou: 14“Voer jou opdrag stiptelik en onberispelik uit tot op die dag dat ons Here Jesus Christus kom.”

1 TIMOTEUS 6:1-14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Een van die belangrikste eienskappe van ’n versorger is getrouheid: getrouheid aan God sowel as aan ander. Lees hoe Paulus Timoteus aanmoedig om getrou te bly.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS