Bible Society of South Africa
Hennie Symington

Gebed – Dag 6

Gebed om vergifnis

Bybelteks(te)

4Was my skoon van my skuld,

reinig my van my sonde!

9Neem tog my sonde weg dat ek rein kan wees,

was my dat ek witter as sneeu kan wees.

Dawid se gebed om vergifnis raak elkeen van ons wanneer ons gekonfronteer word met ons sonde en skande. Maar wanneer sonde soos ʼn siekte in ons binneste kom lê, is ons dikwels te skaam om vergifnis te vra.

In Psalm 51 sien ons ʼn man wat na aan God was, maar nogtans opgevreet word deur sy sondige optrede. Dawid se sondes is by ons almal bekend. Ons onthou toe hy Urija se vrou gesteel het en hom laat sterf het op die grens. Die profeet Natan konfronteer hom egter met die afskuwelike daad wat hy gepleeg het. Hy bely mettertyd sy sonde maar sy skuldgevoel kleef aan hom soos ʼn velsiekte; daar is geen uitkoms vir hom nie. Dawid se skreiende skuldgevoel dryf hom om dit voor God te bely. Hy bid dat God hom moet reinig met hisop, ʼn nederige plantjie met ʼn ryke betekenis in die Woord. Die kruid het medisinale eienskappe en word deur die priesters gebruik om mense met velsiektes te reining. In sy diepe ellende bid Dawid dat God sy hande en sy hart moet “ontsondig met hisop” (51:9).

Sy gebed herinner aan ʼn melaatse wat smeek om genesing. Maar die belangrikste verwysing is natuurlik na Christus aan die kruis wat met ʼn spons wat in hisop gedoop is gelawe word terwyl hy die sonde — of besmetting — van die mensdom op hom neem.

Elkeen van ons word by tye gekonfronteer met die skrikwekkende gevolge van ons sonde wat nie uitgewis kan word nie. Tog het Jesus gesterf om ons te bevry van ons verleentheid oor ons sonde. Neem dus jou takkie hisop en leef in die lig van God se genade en vergifnis.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS