Bible Society of South Africa

Ek is hy – Dag 9

Hy Leef In Hoop

Te midde van die onsekerheid en stryd van die lewe hou hy vas aan die hoop wat God hom bied. Hy kan verby sy omstandighede kyk en positief bly omdat hy weet dat hy in lewe en dood aan Christus behoort en daarom ’n toekoms het.

En jy ontdek: Ek is hy!

Bybelteks(te)

7Toe het Moses vir Josua geroep en vir hom gesê waar die hele Israel dit kon hoor: “Wees sterk, wees dapper! Jy gaan saam met hierdie volk in die land in wat die Here met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee. Jy moet hulle dit in besit laat neem. 8Die Here sal voor jou uit gaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie, moenie skrik nie.”

DEUTERONOMIUM 31:7-8AFR83Maak oop in die Bybelleser

8Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom. 9Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, 'n vreemdeling in 'n vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was, 10want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is.

HEBREËRS 11:8-10AFR83Maak oop in die Bybelleser

13Toe kom staan die Here by Jakob en sê: “Ek is die Here die God van jou voorvader Abraham, die God van Isak. Ek sal die grond waarop jy lê, vir jou en jou nageslag gee. 14Hulle sal so baie wees soos die stof van die aarde, en jy sal jou gebied na alle kante toe uitbrei, en in jou en jou nageslag sal al die volke van die aarde geseën wees. 15Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou na hierdie land toe terugbring. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Ek sal doen wat Ek jou beloof het.”

16Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.”

17Jakob het bang geword en gesê: “Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel.”

GENESIS 28:13-17AFR83Maak oop in die Bybelleser

20Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, 21want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins. 22As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie. 23Ek is in 'n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; 24maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe.

FILIPPENSE 1:20-24AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die wederkoms van die Here

1Oor die tyd en omstandigheid wanneer hierdie dinge sal gebeur, is dit nie nodig om aan julle te skrywe nie, broers. 2Julle weet self maar alte goed dat die dag van die Here onverwags kom soos 'n dief in die nag. 3Wanneer die mense sê: “Alles is rustig en veilig,” sal die ondergang hulle skielik oorval soos geboortepyne 'n swanger vrou, en niemand sal ontkom nie. 4Maar, broers, julle leef nie in die duisternis nie; dié dag sal julle nie soos 'n dief oorval nie. 5Julle is tog almal mense van die lig, mense van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie. 6Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons wakker bly en nugter wees. 7Dié wat slaap, is van die nag; en dié wat hulle dronk drink, is van die nag. 8Maar ons wat van die dag is, moet nugter wees; ons moet geloof en liefde as borsharnas dra en die hoop op verlossing as helm. 9God het ons tog nie bestem om gestraf te word nie, maar om deur ons Here Jesus Christus verlos te word. 10Hy het ter wille van ons gesterwe, sodat ons, of ons by sy koms nog lewe of reeds dood is, saam met Hom kan lewe.

11Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen.

1 TESSALONISENSE 5:1-11AFR83Maak oop in die Bybelleser

  • Hy weet dat hy met God die toekoms kan instap
  • Hy sien God op die mees onverwagse plekke in sy lewe raak
  • Hy weet daar wag vir hom ’n lewe ná die dood
  • Hy sien uit na Jesus se wederkoms

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS