Bible Society of South Africa

Dag 46 – Die lydende dienskneg

Lees oor die vernietiging van Jerusalem.

Bybelteks(te)

Die redding wat Ek bring, sal altyd bly

1Luister na My, julle wat wil reg doen,

julle wat na die wil van die Here vra:

Dink aan die rots waaruit julle gekap is,

aan die klipgroef waaruit julle gegrawe is.

2Dink aan Abraham, julle voorvader,

aan Sara wat vir julle in die wêreld gebring het.

Ek het Abraham geroep toe hy kinderloos was

en Ek het hom geseën en hom 'n groot nageslag gegee.

3Nou gaan die Here Hom oor Sion ontferm,

Hy gaan Hom oor al die puinhope daar ontferm.

Hy gaan die woestyngedeeltes maak soos Eden,

die barre wêreld soos die tuin van die Here.

Daar sal vreugde en blydskap in Sion wees,

daar sal gedank en gesing word.

4Luister na My, my volk,

my volk, gee aandag aan wat Ek sê:

My onderrig sal uitgaan na die volke toe,

my wil sal vir die nasies die koers aanwys.

5Die redding wat Ek bring, kom baie gou,

die verlossing wat Ek bewerk, is op pad,

Ek self regeer oor die nasies.

Die eilande wag op My,

hulle wag dat Ek My laat geld.

6Kyk op na die hemel,

kyk na die aarde hier onder:

die hemel sal soos rook verdwyn,

die aarde sal word soos ou klere,

en almal wat daarop woon, sal doodgaan soos muggies,

maar die verlossing wat Ek bewerk, sal vir altyd wees,

die redding wat Ek bring, sal altyd bly.

7Luister na My, julle wat doen wat reg is,

volk in wie se hart my wet is,

moenie bang wees vir die spot van mense nie,

moenie skrik as hulle julle beledig nie.

8Hulle is soos lap wat deur motte gevreet word,

soos wol wat deur vismotte verniel word.

Maar die redding wat Ek bring, sal vir altyd wees,

die verlossing wat Ek bewerk, sal daar wees vir elke geslag.

9Gryp in, Here, gryp in!

Toon u mag, u krag!

Gryp in soos in die ou tyd,

soos in tye lank gelede.

Is dit dan nie U wat vir Rahab verslaan het nie,

wat die seemonster deurboor het nie?

10Is dit nie U wat die see,

die groot diep waters laat opdroog het nie,

U wat op die seebodem 'n pad gemaak het

sodat dié wat verlos is, kon deurgaan nie?

11Dié wat deur die Here verlos is, sal terugkeer,

hulle sal juigend in Sion aankom,

hulle sal altyd straal van blydskap,

hulle sal vol vreugde en blydskap wees,

ellende en smart sal verdwyn.

12Ek is die Here, Ek bring uitkoms vir julle.

Hoe is dit dan dat jy bang is vir 'n sterflike mens,

vir 'n mens wat so maklik vergaan soos gras?

13Jy vergeet die Here wat jou gemaak het,

wat die hemel oopgespan het,

wat die aarde se fondamente gelê het.

Jy was altyddeur bang vir die woede van die verdrukker,

vir hom wat daarop uit was om jou te vernietig,

maar waar is die woede van jou verdrukker nou?

14Binnekort sal dié wat nog gevange gehou word,

vrygelaat word,

die ballingskap sal nie hulle graf word nie,

en hulle sal nie honger ly nie.

15Ek is die Here jou God,

Ek laat die see onstuimig word,

Ek laat sy golwe druis.

Sy Naam is die Here die Almagtige!

16Ek het vir jou gesê wat jy moet sê,

en jou beskerm in die skaduwee van my hand,

want Ek het die hemel oopgespan

en die aarde se fondamente gelê

en vir Sion gesê: Jy is my volk.

Jerusalem hoef nie langer die oordeelsbeker te drink nie

17Word wakker, word wakker!

Staan op, Jerusalem!

Jy wat die oordeelsbeker

uit die hand van die Here gedrink het,

wat die beker gedrink het wat jou laat steier het,

dit leeggedrink het!

18Onder al die seuns wat jy in die wêreld gebring het,

was daar nie een wat jou gelei het nie,

onder almal wat jy grootgemaak het,

was daar nie een wat jou aan die hand gevat het nie.

19Kyk wat het jou alles getref.

Wie het nog medelye met jou?

Daar is net verwoesting en vernietiging,

hongersnood en bloedvergieting.

Wie kan vir jou uitkoms gee?

20Soos wild wat in 'n vangnet gevang is,

lê jou seuns magteloos op die hoeke van die strate,

voluit getref deur die toorn van die Here,

deur die straf van jou God.

21Luister dan tog hierna,

jy wat in soveel ellende verkeer,

jy wat dronk is, maar nie van wyn nie.

22So sê die Here, jou Here en jou God

wat die saak van sy volk behartig:

Ek gaan die beker wat jou laat steier het,

uit jou hand wegvat,

die beker van my toorn.

Jy hoef nie verder daaruit te drink nie.

23Inteendeel, Ek sit dit in die hand van jou verdrukkers,

hulle wat vir jou gesê het:

“Gaan lê dat ons oor jou kan loop.”

Jy moes jou rug soos die grond maak,

soos 'n straat vir dié wat oor jou geloop het.

Julle sal losgekoop word

1Word wakker, word wakker,

ruk jou reg, Sion.

Trek mooi klere aan,

Jerusalem, heilige stad!

Mense wat nie besny is nie

en mense wat onrein is, sal nie meer in jou kom nie.

2Skud die stof van jou af en staan op, Jerusalem,

jy wat 'n gevangene is.

Maak los die toue om jou nek, Sion,

jy wat 'n gevangene is.

3So sê die Here:

Ek het julle verkoop, maar nie vir geld nie;

julle sal losgekoop word, maar nie deur geld nie.

4So sê die Here my God:

In die begin het my volk afgegaan na Egipte toe

en daar gewoon as vreemdelinge;

later het Assirië hulle verdruk.

5En wat kry Ek nou hier in Babel? vra die Here.

My volk is sonder rede weggevoer,

hulle leiers huil, sê die Here.

My Naam word gedurig belaster.

6Daardie dag sal my volk my Naam bely:

dat Ek die Here is,

dat dit Ek is wat sê: Hier is Ek!

7Hoe wonderlik klink op die berge

die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring,

wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring,

wat redding aankondig,

wat vir Sion sê: “Jou God is Koning!”

8Hoor, jou wagte roep hard,

hulle jubel almal saam,

want hulle sien dat die Here na Sion toe terugkom.

9Jubel en juig, puinhope van Jerusalem,

want die Here het vir sy volk uitkoms gebring,

Hy het Jerusalem verlos.

10Die Here het sy heiligheid, sy mag, geopenbaar voor die oë van al die nasies.

Tot aan die uithoeke van die aarde

sal hulle die redding sien wat ons God bewerk het.

11Gee pad, gee pad, kom uit uit Babel!

Moenie aan iets raak wat onrein is nie.

Kom uit daar! Sorg dat julle rein is,

julle wat die tempelgereedskap dra.

12Julle hoef nie haastig pad te gee nie,

julle hoef nie soos vlugtelinge te vertrek nie:

Die Here gaan voor julle uit,

die God van Israel kom agter julle aan.

Oor óns sondes is hy verbrysel

13My dienaar sal voorspoedig wees.

Hy sal hoog in aansien wees, hy sal baie eer ontvang.

14Baie mense was ontsteld oor hom,

hy was so misvormd

dat hy nie meer soos 'n mens gelyk het nie,

nie meer die voorkoms van 'n mens gehad het nie.

15Maar hy gaan baie nasies laat opspring van verbasing.

Konings sal sprakeloos wees oor hom,

want hulle sal iets sien wat nie aan hulle vertel is nie,

hulle sal iets te wete kom

wat hulle nog nooit gehoor het nie.

1Wie sal ons glo as ons hiervan vertel?

Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?

2Die dienaar was soos 'n loot wat voor die Here uitspruit,

soos 'n plant wat wortel skiet in droë grond.

Hy het nie skoonheid of prag gehad

dat ons na hom sou kyk nie,

nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie.

3Hy was verag en deur die mense verstoot,

'n man van lyding wat pyn geken het,

iemand vir wie die mense die gesig wegdraai.

Hy was verag, ons het hom nie gereken nie.

4Tog het hy óns lyding op hom geneem,

óns siektes het hy gedra.

Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word,

wat deur God geslaan en gepynig word.

5Oor óns oortredings is hy deurboor,

oor óns sondes is hy verbrysel;

die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom,

deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.

6Ons het almal gedwaal soos skape,

ons het elkeen sy eie pad geloop,

maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.

7Hy is mishandel, maar hy het geduldig gebly,

hy het nie gekla nie.

Soos 'n lam wat na die slagplek toe gelei word

en soos 'n skaap wat stil is as hy geskeer word,

het hy nie gekla nie.

8Terwyl hy gely het en gestraf is,

is hy weggeneem,

en wie van sy mense het dit ter harte geneem

dat hy afgesny is uit die land van die lewendes?

Hy is gestraf oor die sonde van my volk.

9Hy het 'n graf gekry by goddeloses,

hy was by sondaars in sy dood

al het hy geen misdaad gepleeg nie

en al was hy nooit vals nie.

10Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel,

om hom die pyn te laat ly.

As hy sy lewe as skuldoffer gee,

sal hy 'n nageslag hê en nog lank lewe,

deur hom sal die wil van die Here sy doel bereik.

11Ná sy bitter lyding sal hy weer die lig sien

en hy sal die Here ken.

My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak:

hy sal die straf vir hulle sonde dra.

12Daarom gee Ek hom 'n ereplek onder die grotes.

Hy sal saam met magtiges die oorwinning vier

omdat hy hom in die dood oorgegee het

en as misdadiger beskou is,

omdat hy die sondes van baie op hom geneem het

en vir oortreders gebid het.

JESAJA 51:1-53:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

BID voor jy lees en vra God om jou te help om te verstaan.
LEES die Bybelgedeelte vir die dag – verkieslik meer as een keer.
DINK NA oor die gedeelte. Skryf jou gedagtes in ʼn dagboek neer.
PAS TOE wat God jou uit sy Woord leer.
BID weer en vra God om jou te help om volgens sy Woord te leef.

Bible Society of South Africav.4.18.14
VOLG ONS